Wat as God sou moeg raak vir ons?
2011, Taiwan
God is so, so, so jaloers op ons,
nie op ‘n negatiewe manier nie.
Positief, onbeskryflik. Soos ‘n
bruidegom oor sy bruid voel. As jy ‘n bruidegom
kry wat nog nooit in sy lewe sy hand vir iemand gelig het nie, gaan jy hom dit
waarskynlik sien doen as jy met sy bruid mors.
Ek was nog nooit ‘n bruid, maar ek dink dis hoe dit werk. God het alles wat Hy moontlik kon vir ons
gegee. Hy’t sy Seun gegee. Wie weet, Hy kon dalk op ‘n ander manier vir
ons verduidelik het hoe lief Hy vir ons is en hoeveel Hy vir ons opgeoffer het,
maar Hy het hierdie manier gekies. God
kies altyd dinge in die natuurlike wêreld wat ons verstaan om vir ons
geestelike dinge te verduidelik. God gee
aan ons soveel onvoorwaardelike liefde.
Hy oorlaai ons met geskenke. Die
God van die heelal is besorgd oor ons.
Hy wil met ons praat, met ons verhouding hê, Hy wil hê ons moet Hom
ken. Hy wil diep hartsgeheime met ons
deel. Verbeel jou dit! Dis soos ‘n mens wat hom bemoei met die lewe
van ‘n miertjie. En wat verstommend is,
is dat Hy gevoelens het, en seerkry as ons Hom vermy, Hom ignoreer, tyd het om
by Hom uit te kom, maar verskonings soek om dit nie te doen nie. Ek bedoel, Hy is en doen al hierdie dinge vir
ons, maar nogsteeds kry ons dit reg om net te vat wat ons kan kry en Hom dan
opsy te skuif, om tyd vir Hom te maak wanneer dit gemaklik is vir ons. Ons sê so maklik vir Hom “ek wil hierdie doen
en daardie doen en help my asseblief om so en sus te wees vir U en U eer en
heerlikheid”. More het ons van al
daardie goeie intensies of beloftes vergeet.
Wanneer die tekkie die teer tref en ons besef dat ons dalk ons gemak,
tyd, geld, vermaak of wat ookal moet opgee om tyd met Hom te spandeer, dan gaan
ons so maklik terug op ons woord. En dit
breek sy hart. Nee, Hy staan nie reg met
‘n lat om jou by te kom elke keer as jy ‘n voet verkeerd sit nie. Dis nie wie Hy is nie. Hy’s ‘n God, ‘n Pa, ‘n Vriend wat gesag oor
ons het ja, maar intieme vriendskap en liefde met ons begeer. Hy wil hê ons moet stil sit by Hom (of fiets
ry of gholf speel of kitaar speel of wat ookal dit is), alleen by Hom (dus
fietsry of gholfspeel nie saam ‘n ander mens nie, maar saam met Hom) en
luister, en gesprek voer, en doen. Saam
met Hom. Hy gaan Homself nooit op ons
afdwing nie, want Hy’s ‘n gentleman. Soms
voel jy jy verdien nou regtig ‘n klap, maar dan kry jy nie ‘n klap nie. Jy loop jou net vas in sy liefde, en sy
oneindige getrouheid. En Hy gee jou
kans, na kans, na kans, na kans, na kans.
Hy hou aan en aan en aan en aan en aan.
Sy genade sal wel eendag
uitloop. Maar wee daai dag. Ek wil nie begin om te dink hoe dit gaan wees
vir die persoon wat verstaan hoe geduldig God met hom is, maar net nooit sy
sokkies optrek nie. Hoe dit gaan wees
vir hom (of vir jou of vir my) op die dag wat Hy ons oordeel? Ek dink God gaan meer genade hê met ‘n nasie
soos China wat God nie ken nie en besig is om ons planeet te verinneweer (kyk
Wikipedia: bear bile) as met mense wat toegang het tot soveel kennis van God
soos wat meeste van ons het.
Wat as God nou sou sê: “Ek is nou moeg vir jou verskonings. Ek is moeg vir al die leë beloftes wat jy maak. Want wat jy sê en wat jy doen is twee
verskillende dinge, en dit breek My hart.
Ek sal dit verkies as jy liewer niks sê nie, as wat jy ‘n klomp dinge sê
en niks daarvan doen nie. Ek is moeg
daarvoor om die laaste Een op jou prioriteitslys te wees. Moeg daarvoor om te sien dat jy elke dag met
jou vriend op Skype is, maar nie dieselfde moeite doen om by My uit te kom
nie. Ek is moeg daarvoor dat jy my net ken wanneer dit vir jou gemaklik
is. Moeg dat jy na My toe kom net
wanneer jy my dringend nodig het om jou te help met iets, maar geen begeerte
het om My hart te leer ken nie. Moeg dat
jy verhouding met my wil hê net op jou eie terme. Moeg dat jy skaam is oor jou vriendskap met
my wanneer jy tussen jou vriende is wat my nie ken nie en my nog minder
verstaan. Moeg dat jy hulle nie reghelp
wanneer hulle wanpersepsies het oor My nie.
Moeg dat jy dinge op jou eie probeer uitwerk, moeg dat jy enigsins dink
dis moontlik om dit op jou eie uit te werk.
Moeg dat jy nie verstaan hoe ek begeer dat jy na My toe kom met jou
probleme, jou hartseer, jou vrae, jou verwarring, jou woede, jou
drome nie. Moeg dat jy nie jou
vreugdes eerste met my deel nie. Ek is
moeg daarvoor dat jy my hart verkeerd verstaan, moeg dat jy dink ek gaan jou
net oorlaai met laste wanneer jy na my toe kom.
Moeg dat jy dink ek gaan met jou raas en baklei wanneer jy na my toe
kom. Verstaan jy nie? Almal wat moeg en oorlaai is, as hulle na My
toe kom, gaan ek hulle laste op My neem, en Ek gaan vir hulle ‘n las van ‘n
ander soort gee, een wat lig is om te dra omdat jy dan saam met My ingespan sal
wees, en die beste van alles is, jy gaan My geselskap hê, onophoudelik, die
hele tyd, dag en nag. Jy hoef nooit met
My ‘n afspraak te maak nie want ek is altyd beskikbaar. Jy sal net vir jou eie onthalwe moet afsprake
maak want jy is nie altyd so beskikbaar nie.
Ek gaan daar wees vir jou. Ek sal
nooit ooit jou sy verlaat nie (tensy jy My vra om jou te verlaat). Ek sal jou nooit alleen los nie. En vir My is daar niks in die heelal wat
onmoontlik is nie, so daar is niks wat jy hoef te vrees nie, niks waaroor jy
hoef bekommerd te wees nie, niks wat vir jou onmoontlik sal wees as dit iets is
wat jy saam met My aanpak nie. Jy sal
suksesvol wees in alles wat jy saam met My aanpak. Sukses sal natuurlik ‘n ander betekenis kry
wanneer jy saam met My ingespan is. Jou
lewe saam met My gaan nie net afdraende wees die hele pad nie. Maar hoe sal jy ooit ‘n afdraende kan
waardeer as jy nie opdraendes ook ken nie?
En een ding is seker, saam met My gaan jy nooit doodgaan van
verveeldheid nie. Besef jy nie hoe
obsessief Ek is om verhouding met jou na te jaag nie? Besef jy nie hoe
obsessief Ek jou liefhet nie? Wat moet
ek nog doen om jou aandag te kry?”
Wat as God hierdie dinge sou
sê? Wat sou van ons word die dag wat God
moeg is vir ons? Hy sal nie weer 'n
globale vloed stuur nie. Maar intussen
trek Hy seker sy hare uit sy kop uit van frustrasie terwyl Hy net aanhou om met
ons geduldig te wees. Wanneer gaan ons
oë oopgaan? Wanneer gaan ons in sy oë
kyk en verstaan hoe Hy voel wanneer ons net aangaan met ons lewens asof die Een
wat ons geskep het nie bestaan nie.
Wanneer gaan ons voel wat Hy voel, omdraai, na Hom toe hardloop, ons
arms om sy nek gooi en vasgryp asof ons nie van plan is om Hom ooit te los
nie. Dit is sy grootste begeerte vir
elkeen van ons. Want net daar, met jou
arms om sy nek, is die veiligste, vriendelikste, liefdevolste, beste plek om te
wees wat jy ooit in jou hele lewe gaan vind.
En wanneer ons dit gevind het, om vir ander te vertel daarvan.
Ek het in die Here se
teenwoordigheid so bewus geword van die donker donker plek waarin ek huidiglik
bly (Taiwan). Die donkerte is
overwhelming. En so baie van ons
Christene (in die Weste, want in Taiwan is hulle few and far between) sit langs
die swembad en bier drink terwyl die oorlog buite aan die gang is, soos in 'n
toneel uit die fliek Green Zone waarin Matt Damon speel.
No comments:
Post a Comment