Friday 6 November 2015

Homoseksualiteit en die NG kerk



2015, Nelspruit


Hierdie brief is my reaksie op die besluit van die NG kerk om gay predikante toe te laat tot die bediening en gay verhoudings te seën.


Ek het die volgende brief geskryf in reaksie op ‘n berig deur ‘n joernalis in die Rapport van 12 Oktober 2015, maar geen deel van my brief was gepubliseer nie:


Die joernalis noem dat die besluit skokkend is vir veral “ouer” lidmate en dat baie lidmate “moeilik deur teologiese en wetenskaplike argumente ten gunste van ‘n groter aanvaarding van gay mense oortuig sal word”. So ‘n stelling moet met bewyse ondersteun word. Ek is beide ‘n wetenskaplike en teoloog. Ek het ‘n Nasionale Diploma in Analitiese Chemie en het 9 jaar as Forensiese deskundige gewerk. Ek het ook ‘n honeursgraad in Teologie. Ek het ook ‘n paar beradingskursusse deurloop en verstaan heelwat van emosionele en sielkundige verwonding van die mens wat tot allerhande gevolge lei. 


Ek is nie ‘n bioloog nie (het biologie darem tot in matriek gehad), maar ek verstaan dat niemand nog ooit ‘n gay-geen kon opspoor en identifiseer nie. Daar bestaan nie so ‘n geen nie. Niemand word gay gebore nie. Dit is die samelewing en die leuens van Satan wat mense gay maak. Homoseksualiteit is die gevolg van innerlike verwonding en dit kan genees word. Daar is baie voorheen homoseksuele mense wat genesing in die kerk ontvang het vir hulle emosionele wonde van kindsbeen af, en daarna as gelukkige heteroseksuele mense leef. (Die oorlede Ronnie Belcher is dalk Suid-Afrika se bekendste voorbeeld. Dis ‘n baie goeie idee om sulke mense se getuienisse te versamel en ‘n boek saam te stel met al die stories. Daar is dalk al so ‘n boek, maar ek het nog nie gesoek nie.)


Daar is verskeie redes waarom mense aangetrokke raak tot dieselfde geslag persone. Sommige daarvan is as volg: So baie kinders word gemolesteer dan word daardie gebeurtenisse baie diep in die siel weggebêre. Later met hul seksuele ontwaking ontwikkel hulle ‘n weersin in die teenoorgestelde geslag. In ander gevalle word die kind groot met ‘n emosioneel of fisies afwesige pa en/of dominerende ma, en dan kom daar ook verwarring by die kind oor sy identiteit. In nog ander gevalle word kinders/mense se persoonlikhede of temperamente wat verkeerd deur ander mense geïnterpreteer. Sulke mense het swak kennis van die diversiteit waarmee God die mens geskape het en omdat hulle nie die uniekheid van ‘n ander persoon kan waardeer nie, maak hulle dan uitlatings teenoor onskuldige kinders/mense soos met die vraag “is jy gay” aan ‘n outjie wat van nature ‘n bietjie verfynd en kunstig is, maar nie gay nie. Die mense aan die ontvangkant begin naderhand die leuens glo en begin dan eksperimenteer. 

Ek het baie deernis vir mense wat vasgevang is in homoseksualiteit (al ervaar hulle dit nie as vasgevang wees nie), want ek glo dat die oorsaak altyd 'n diep emosionele wond is, of selfs iets wat van 'n voorgeslag af oorgedra is (dit is al bewys as 'n oorsaak). Soms is dit so diep weggebêre dat die persoon self nie eens weet wat gebeur het nie. Dikwels in beradingsessies wys die Heilige Gees daardie wonde uit en dan kan mense genesing ontvang. Ek weet gay mense voel dat “as iets so reg voel, hoe kan dit dan verkeerd wees?”. Maar soos die woorde van die lied Houtkruis gaan  “Ek vra nie hoe jy voel nie, want as gevoelens ooit besluite sou moes raak, dan was daar nooit die pyn nie, toe die spykers deur die bloed daardie houtkruis kraak” (ek haal aan onder korreksie). Jesus was nie lus om Kruis toe te gaan nie (ons weet dit want Hy’t die Vader gevra om die lydensbeker van Hom af weg te neem indien moontlik), maar Hy het, want dit was die Vader se wil en Jesus moes gehoorsaam wees. Homoseksualiteit kan nie geregverdig word op grond van hoe mense (gay of straight) daaroor voel nie. Die goeie interpretasie (volgens erkende reëls van Bybel interpretasie) van die Woord van God is ons maatstaf. As ons ervaring nie ooreenstem met God se Woord nie, dan is dit die interpretasie van ons ervaring wat foutief is en nie die Woord van God nie. God die Vader het man en vrou gemaak om alleenlik in een heteroseksuele verhouding met mekaar te wees. Die ultimate “heteroseksuele” verhouding is tussen Jesus die hemelse Bruidegom en die kerk sy Bruid. 


Verder, om te sê dat dit veral ouer mense is wat gekant is teen die besluit, is ‘n stelling uit onkunde. Ek is nie so oud nie. Ek beskou myself as jonk en ken baie jong mense, van studente vars uit die skool al die pad tot en met my ouderdom. Hulle is Christene wat die Woord van God as hoogste gesag in hulle lewens aanvaar het en daarom glo dat homoseksualiteit sonde is, soos wat dit in elke konteks waarin dit in die Skrif genoem word, is. Nêrens in die Skrif word homoseksualiteit ooit in enige ander konteks genoem as dat dit sonde is nie. En net soos wat ander sondes soos lieg, steel, haat, moord, verkragting, ens. nogsteeds sonde is en nie net sonde was in die Joodse kultuur van 1000e jare gelede nie, is homoseksualiteit nogsteeds sonde. Maar dit baat niks om hierdie feit te noem vir mense wat nie die Skrif as hoogste gesag aanvaar nie. Mense het verskillende interpretasies van die Bybel. Maar ‘n groot tekortkoming in die NG kerk is genoegsame kennis oor die Heilige Gees. Want sien, sonder om met die Heilige Gees vervul te wees, is niemand ‘n ware Christen nie. Die hele Nuwe Testament is vol daarvan. Hulle wat in Christus is, het ook die Gees van God. En ek weet die meeste NG gemeentes verkondig nie die doping en vervulling van die Gees van God wat nodig is na bekering nie. Meeste gemeentes verkondig nie eens bekering nie. Mense dink dat hulle “gered” is omdat hulle as babas gedoop is en dit kan nie verder van die waarheid af wees nie.  Die ware Christen is nie die een wat sondag na sondag kerk toe gaan en aan al die kerk aktiwiteite deelneem nie. Die ware Christen is die een wat in nederigheid na God te gekom het, vergifnis vir sy sonde gevra het, gekies het om sy lewe aan die heerskappy van God oor te gee (want Hy is Koning), sy rug op alle doelbewuste sonde draai en die doping in die Heilige Gees ontvang. Elke persoon wat die Heilige Gees ontvang het, is nie net meer ‘n kerkganger of religieuse persoon nie, maar ‘n persoon wat in ‘n werklike, lewende verhouding met die lewende God loop, sy Woord lees en die stem van die Heilige Gees hoor. Dit moet binne ‘n gemeenskap van gelowiges (kerk) plaasvind, sowel as in elkeen se privaatheid. Slegs mense wat daardie oorgawe gemaak het (mense wat nie meer konings van hul eie lewens is nie, maar God as koning aangestel het) en die Heilige Gees ontvang het, kan die Skrif verstaan en glo. Alles wat ek nou hier gesê het kan deur Skrif bevestig word, maar word ook bevestig deur die ervarings van miljoene mense wêreldwyd wie se lewens radikaal verander het nadat hulle tot bekering gekom het en die Gees ontvang het. ‘n Sinvolle gesprek tussen mense wat nog essensiëel onbekeerd is (hulle eie opinies belangriker as die gesag van die Skrif) en mense wat bekeerd is (vol van die Heilige Gees) kan dus nooit plaasvind nie en daarom is debatte tussen mense uit die twee verskillende kampe meestal vrugteloos. Die Heilige Gees alleen kan aan mense die openbaring van die waarheid gee. My persoonlike waarneming is dat die meeste mense wat uit die NG kerk na Pinkster kerke toe oorgeloop het oor die afgelope dekades, om hierdie rede oorgeloop het. Hulle het, net soos ek, ontdek dat ons in intieme verhouding met die Gees van God kan wees, en ons wou nie langer meer kerk-kerk speel nie. Daarmee sê ek nie dat almal in die NG kerk sonder die Heilige Gees is nie. Daar is verseker ware Christene in die NG kerk, maar NG lidmate word oor die algemeen nie deur leraars gehelp om hierdie intieme verhouding met die Gees van God te hê nie. In die Pinkster kerke waaraan ek behoort het, was die grootste hoeveelheid lidmate afkomstig van die gereformeerde tradisie. En amper almal het oorgeloop omdat hulle tot ware bekering gekom het en ‘n verhouding met die Heilige Gees ontdek het.
  

Wat Christene in die NG kerk se gesindheid heens alle mense behoort te wees, stem ek heeltemal saam met ds. Van der Spuy se standpunt. Die kerk is ‘n plek vir sondaars. Jesus self het gesê hulle wat siek is het die Geneesheer nodig en nie hulle wat gesond is nie. Daarom is ieder en elke mens op hierdie aarde (want ons almal is sondaars wat ‘n Verlosser nodig het) veronderstel om welkom te wees en te voel in enige kerk (behalwe natuurlik terroriste wat mense wil doodskiet soos in baie kerke oor die wêreld gebeur). En daarom is enige homoseksuele persoon welkom in enige kerk en moet ons die liefde van die Vader aan hulle openbaar en hulle intrek in ons kerklewens in. Hulle wat hulself skuldig maak daaraan om enige iemand te verstoot of verwerp, het dalk nog nie ‘n openbaring van die liefde van God gehad nie, en sukkel daarom om in liefde uit te reik na mense wat anders is as hulle. Of hulle het net nie insig en kennis in die redes waarom mense homoseksueel word nie en daarom kan hulle nie deernis hê nie. Maar ons kan nie homoseksuele verbintenisse seën nie, want dit is teen God se Woord en wil. God het hulle nie so gemaak nie. Die wêreld en die Satan het hulle so gemaak. God wil hulle vrymaak en genees. Homoseksuele persone kan ook nie in leiersposisies staan nie, net soos wat iemand wat sukkel met pornografie of ‘n kroniese leuenaar is ook nie ‘n leier in die kerk moet wees totdat hy sy doelbewuste sonde oorwin het deur die krag van die Heilige Gees nie. 


Dit is belangrik dat almal wat pro-gay is verstaan dat mense wat die Skrif en God se wil verstaan soos ek doen, glad nie homoseksuele persone of enige iemand anders wat in sonde volhard, wil verstoot of verwerp nie, maar juis na hulle toe wil en moet uitreik in liefde en vriendskap. Dit is nie ‘n teologie van vrees en uitsluiting soos die joernalis dit noem nie. My en ander se standpunt oor homoseksualiteit is nie liefdeloos nie en daar behoort nie ‘n “fel aanslag uit konserwatiewe en fundamentalistiese kringe” te kom nie, in elk geval nie van mense wat werklik deur die Heilige Gees gevul is nie. Want ons weet dat die stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte van Satan wat mense verblind en in gevangenisskap wil hou. Ons taak is om te bid vir mense se vryheid en om na almal uit te reik in liefde. Jesus self het saam met sondaars geëet en in hulle huise ingegaan. Dit is die skynheiliges wat Hy verag het. Jesus betoon genade en vergifnis aan elkeen wat in nederigheid na Hom toe kom. Niemand hoef te verander voordat hulle na Hom toe kom nie, maar Hy het mense so lief dat Hy nie sal toelaat dat hulle voortleef in hul gebrokenheid nie. Hy vergewe en genees mense. Al wat die mens moet bring is gewilligheid om deur Jesus se liefde en krag verander te word. Ons lees in die Evangelies dat elke keer wanneer ‘n sondaar na Jesus toe gekom het en toegelaat het dat Jesus hom/haar bedien, dan het hulle lewens radikaal verander ten goede en het hulle Hom gevolg. 


Ek beskou dus nie die “progressiewe denkers” waarvan die joernalis praat, sowel as die “ouer mans van die sinode” (p.7 van weekliks) wat ten gunste was van die besluit, as ware Christene nie. Hulle besluit gaan lynreg in teen die duidelike lering van die Skrif. (Ds. Dirkie vd Spuy en almal wat met hom saamstem, word nie hierby ingesluit nie. Ek beskou hom as die generaal van die NG kerk in SA, werklik ‘n geestelike generaal.) 


Die besluit van die NG kerk is dus nie ‘n dapper besluit soos wat die joernalis dit noem nie, maar ‘n besluit wat net ondersteun kan word deur persone wat nie die Skrif (Bybel) as die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie, maw, die Woord van God het nie die hoogste gesag in hulle lewens nie. Hulle eie opinies, denke, en groepsdruk van buite af het vir hulle hoër gesag as die Skrif. Hierdie gebeurtenis is dus nie ‘n positiewe verandering in die NG kerk nie, maar ‘n negatiewe een.


Ek het onlangs ‘n akademiese opstel geskryf oor die NG kerk en die Heilige Gees. Dis in Engels en Afrikaans beskikbaar en ongeveer 12000 woorde. Enige een is welkom om daarvoor te vra en ek sal gedeeltes daarvan ook in afsonderlike blog inskrywings plaas. Daarbinne is ‘n baie goeie Skrifuitleg van dit wat ek hierbo sê. 


(Ek plaas homoseksualiteit nie in dieselfde kategorie as egskeiding of vroueleeraars soos die joernalis doen nie. Ek kan nie hier op hierdie onderwerpe uitbrei en die teologie hier verduidelik nie, alhoewel dit baie nodig is in ‘n debat daaroor, maar ek wil net noem dat ek ten gunste is van vroueleraars wat deur God geroep is vir die bediening. Dit is nie teenstrydig met ‘n goeie interpretasie van die Skrif nie. En ek is ook ten gunste van egskeiding in sommige gevalle waar alle ander paaie gestap is om die probleme te probeer oplos maar alles onsuksesvol was. Dit is ook nie teenstrydig met die Skrif nie. Ek is egter beslis gekant teen apartheid. Dit was ‘n baie verkeerde ding. Dis nie ‘n sonde om ‘n ander velkleur te hê nie en ek glo die vaders van apartheid het beslis nie die Here geken nie, want as hulle het, sou die Heilige Gees hulle oortuig het van hulle sonde. Die kerk was ‘n staatsinstelling en nie almal in die kerk , selfs vandag, is ware Christene nie, maar nominale Christene – Christene net by naam en nie in hart nie.)

No comments:

Post a Comment