Friday 6 May 2016

Celebration of a sacrifice (Afrikaans)

Ek het die titel in Engels geskryf want dit klink dalk 'n bietjie meer treffend as in Afrikaans: Die viering van 'n opoffering.

Hierdie inskrywing is 'n uittreksel van iets wat ek moontlik sal insluit in die boek wat ek besig is om te skryf. Ek skryf oor die betekenis van die kruis van Christus. Soos jy, het ek ook aangeneem ek verstaan hoekom Jesus moes sterf, want ons hoor dit mos van kleins af van die kansel af. Maar meer daaroor in die boek.

Soos wat ek oor die onderwerp bid, oplees, dink en skryf, openbaar die Heilige Gees gedurig dieper waarhede aan my. Hierdie inskrywing gaan oor een so 'n openbaring wat ek deur 'n persoonlike ervaring ontvang het. Die waarde daarvan om my persoonlike ervaring oor te vertel le net daarin dat dit lei tot 'n groter waardering van alles wat Jesus opgeoffer het ter wille van ons.



Ek het op die 23e April 2016 die SATS gradeplegtigheid bygewoon. Ek het laas jaar die BTh(hons) voltooi. Ek kon gekies het om tevrede te wees om die sertifikaat in die pos te ontvang, maar het gekies om die plegtigheid by te woon, miskien omdat ek gevoel het dat die prestasie die plegtigheid waardig is. Of miskien omdat ek die kursus deur die pos gedoen het en ek ten minste een keer wil deel voel van die groter groep mense wat ook betrokke is by SATS. Of miskien eenvoudig net omdat ek voel dat sekere mylpale gevier moet word. Of miskien omdat ek diep binne my gevoel het daar is ‘n oorwinning of iets wat gevier moet word, vir watter waarde dit ookal kon wees. Ons vier tog ook verjaarsdae, verlowings, huweliksherdenkings ens. Dis so ‘n antiklimaks om die sertifikaat deur die pos te ontvang, met niemand wat jou gelukwens, hande klap of ‘n foto neem nie. Ek het egter gewonder of dit nie die meer nederige posisie is om te neem om nie die plegtigheid by te woon nie. Soos Max Lucado verkondig in sy storie “Jy is spesiaal”, moet ons die tipe mense wees aan wie sterretjies en kolletjies nie kan vasplak nie. Maar dalk is die begeerte om blydskap met ander mense te deel, met ander woorde te vier, net natuurlik, iets wat God in ons menswees ingebou het, en daar dus niks verkeerd met ‘n gradeplegtigheid, selfs vir teologie nie. Maar om die waarheid te sê het ek egter die gradeplegtigheid bygewoon terwyl ek onseker was oor wat God se wil daaroor is. Ek het dus geen verwagting gehad dat dit vir my ‘n spesiale dag sou wees nie. Ek het eerder verwag dat ek ‘n bietjie skuldig sou voel omdat ek nie die meer nederige posisie inneem deur ‘n gesindheid van “laat die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie”. Ek het gedink ek sal net deur die formaliteite gaan en mooi glimlag, dan het ek darem ‘n mooi foto wat ek kan raam, vir myself en die enkeles wat in my huis kom. Ek moet beklemtoon dat ek regtig verwag het dat die dag soos net nog ‘n formaliteit sou voel, iets waaroor ek eintlik skaam moes wees, dat ek so wêrelds georiënteerd is om ‘n gradeplegtigheid by te woon vir ‘n graad wat ek ontvang het omdat ek ‘n formele studie oor God (teologie) gedoen het. Ek het beslis nie verwag om weggeblaas te voel nie... 

Ek moes deur die loop van die middag baie hard veg teen trane: nadat ons die items vir ons uitrustings ontvang het, deur die loop van die fotosessie, later in die ry waar ons gewag het om in die ouditorium in te gaan, en dwarsdeur die verloop van die plegtigheid, van begin tot einde. Ek het die geveg verloor en het maar net probeer om die trane ongesiens weg te vee. Ek was so emosioneel en oorweldig deur die waarde en grootsheid van die dag. (Ek is oor die algemeen ‘n baie emosionele mens en huil maklik oor beide hartseer en blydskap. Ek kan bv. vir 2 minute lank ‘n rugby wedstryd kyk en huil van blydskap wanneer ‘n drie gedruk word omdat ek my vereenselwig met daardie man en sy span se vreugde terwyl ek hom of sy span glad nie ken nie en nie eens ‘n rugby ondersteuner is nie.) Tussen die trane deur het die rede waarom die gebeurtenis my so diep raak, tot my deurgedring. Dit was die herinnering aan alles wat ek opgegee het (of in goeie Bybelse taal, opgeoffer het), en al die harde werk om hierdie kursus te voltooi. Deel van die herinnering is ook die swaar tye (emosioneel en fisies) wat ek deur is in dieselfde tydperk as die studies, maar wat nie direk verband hou met die studies nie. Dis dinge wat meeste mense nie van weet nie (want mens deel sekere dinge net met jou binnekring), want God is altyd besig om aan ons karakter te werk om ons meer na die beeld van Jesus te vorm en in dieper verhouding met Hom te trek. Soms sluit dit moeilike tye in. Dit is ‘n lewenslange proses. 

Dis nou nie nodig om alles te noem wat ek opgegee het of “gely” het sodat ek tyd kon hê om hierdie studie te voltooi nie. Wat saak maak is dat daardie gevoel van opoffering my op die dag van die gradeplegtigheid oorweldig het, en die gevoel van dankbaarheid dat ek hierdie mylpaal gehaal het, daarmee saam. Verder het ek nie hierdie studie gedoen net om ‘n graad te ontvang en ‘n beroep te oefen nie. My verhouding met God en sy roeping op my lewe is absoluut die middelpunt en rede vir my bestaan. Elke spreker wat by die plegtigheid gepraat het, het dinge gesê wat my op ‘n baie diep vlak raak. Die dag was toe nie vir my net ‘n formaliteit nie, maar soete intimiteit met God. Dit is vir Hom en sy mense wat ek hierdie opoffering gemaak het. Hy het my geroep vir ‘n spesifieke taak en hierdie studie vorm deel van my toerusting vir hierdie taak. Dis Hy wat my gelei het om die studie te onderneem. Hy het my geseën en in staat gestel en alles gegee wat ek nodig gehad het om dit te voltooi. Ek probeer hard, maar woorde skiet te kort om te probeer beskryf hoe spesiaal die dag vir my was. 

Die aand toe ek totaal uitgeput na die lang dag by die huis kom, het ‘n groot waarheid tot my deurgedring. Noem dit ‘n openbaring. Die dag was vir my so spesiaal omdat dit die “viering van ‘n opoffering” was. Ek het besef dat dit presies is waarom ons Jesus aanbid en oor Hom juig. Wanneer ons aan Jesus dink, dink ons aan die kruis. Maar Jesus se hele lewe was ‘n opoffering. Sy hele lewe het nie gegaan oor homself nie, maar oor die mensdom wat nodig gehad het om te sien hoe God aarde toe kom in die vorm van ‘n Mens om ons te leer en aan ons demonstreer hoe om in sy Koninkryk te leef, en ‘n voorbeeld te wees van hoe om swaarkry te verduur ter wille van ander, sodat ons ook, soos Hy, een dag uit die dood na die ewige lewe toe kan opstaan.  As ons werklik hierdie openbaring het van Jesus se gee van sy lewe (“offer”) ter wille van ons, en wanneer hierdie besef ons vul met intense waardering en nederigheid, sal ons almal tot ‘n meerdere of mindere mate so emosioneel wees soos wat ek was op die dag toe my “opoffering” gevier is.  Wanneer Jesus se woorde “wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg” [1953] dan in ons ore ego, kan ons moed skep uit die voorbeeld van Jesus se opoffering.  Hy verwag niks van ons wat Hy nie self deur is nie, en Hy gee sy Heilige Gees om ons te help met alles wat Hy van ons vra. Om jouself te verloën (“to deny”), is om jouself te ontneem van die reg om vir jouself te leef, sodat jy vir God se doeleindes kan leef. Die Skepper God kon gekies het om elke wese (soos Satan) en mens wat teen Hom in opstand kom, net te vernietig. Hy kon sodoende almal basies gedwing het om aan Hom onderdanig te wees. Maar gedwonge “liefde” is nie ware liefde nie. Ter wille van ware verhouding en liefde, moes God die Satan toelaat om te bestaan. En omdat die Satan bestaan en mense verblind en mislei sodat hulle nie kan sien wie God is nie, het God sy gemak in die hemel prysgegee sodat Hy in die vorm van ‘n Mens Homself kon onderwerp aan die beperkinge van sy eie Skepping. Jesus het alles behalwe ‘n gemaklike lewe op aarde gehad. Ek onthou altyd die woorde in Jesaja 53:3: “... a man of sorrows, and familiar with pain”. Hy het dit alles gedoen ter wille van ons, die mens, sodat Hy ons in ware verhouding met Hom kon bring. Daar is niks meer waardevol as ware verhouding en opregte liefde nie. Maar soos die Engelsman sê, “it takes two to tango”. God vra van ons om ook ons lewens neer te lê ter wille van verhouding: elkeen van ons se verhouding met Hom, en ander mense se verhouding met Hom. Alles wat Hy ons vra en lei om te doen op hierdie aarde, gaan uiteindelik daaroor om eerstens ware verhouding met Hom te kan geniet en tweedens om ander mense te help om ‘n beter prentjie van die ware God te kry, sodat hulle ook in ware verhouding met Hom kan inbeweeg, en sodat hulle op hul beurt die proses kan voortsit. 

Dink daaroor: Jesus se woorde dat die wat Hom wil volg hulle kruis moet opneem, het Hy gesê voor sy eie kruisdood! Jesus het niks verkondig  wat Hy nie self deur sy eie lewe ook gedemonstreer het nie. En dink daaraan, as ‘n mens ‘n kruis dra, waarheen dra jy dit? Jy dra die kruis na die dood van jou vlees toe! Om ons lewens te gee (op te offer) ter wille van God se plan met ons lewens (wat altyd gaan oor ander mense), is om ons vlees met sy begeertes te kruisig, en op te staan in die krag van die Heilige Gees. Net vanoggend is die betekenis van ‘n teksvers aan my openbaar. Ek het al ‘n paar maal gewonder wat die teksvers in 1 Petrus 4:1-2 beteken. Die Engelse vertalings sê dit beter: “...because the one who suffered in the flesh has finished with sin...”. Jesus se lyding en kruis is vir ons ‘n metafoor vir hoe ons ons eie vleeslike, sondige begeertes moet kruisig, sodat ons kan opstaan en lewe in die krag van die Heilige Gees, sodat ons God kan behaag met ons lewens. Almal wat die keuses maak om hulle “vlees” te kruisig, ervaar dit soms as pynlik. Almal wat kies om Jesus te volg, gaan hulle gemak en ander dinge moet prysgee in die proses. Maar die oorwinning is so soet! As ‘n mens die waarde van jou “lyding” besef, dan verloor sonde sy aantrekkingskrag, en begeer jy meer en meer om die Here se wil te soek en te doen.  Die beloning van ware intimiteit met God, deur sy Gees, is absoluut die moeite werd. Dink aan ‘n ma wat geboorte skenk sonder pyn medikasie. Ons hoor altyd die stories van hoe swaar en pynlik dit was, maar die vreugde wat daardie ma ervaar wanneer sy haar baba in haar arms hou, maak dit alles die moeite werd. Paulus het van Jesus gesê “For the joy that was set before Him, He endured the cross”. Jesus het ons redding en maw ons verhouding met God in gedagte gehad toe Hy die pyn van die kruis verduur het, en dit het Hom bemoedig om deur te druk.

Wanneer ons dus Jesus se opoffering vier en Hom aanbid vir wie Hy is en wat Hy gedoen het, dan moet ons terselfdertyd herinner word daaraan dat ons as sy dissipels ook gekies het om ons gemak en selfgesentreerde ambisies en begeertes prys te gee sodat ons dit wat van baie meer waarde is, kan bekom, naamlik ‘n dieper verhouding met Hom en om te lewe om sy wil op aarde te doen. Dit mag miskien klink soos werk, maar die intimiteit wat ons met God mag geniet omdat ons Hom ken en sy wil doen, is onbeskryflik. Dit is natuurlik diep geestelike intimiteit waarvan ek praat, dikwels sonder woorde. Hierdie tipe intimiteit kan ‘n mens slegs ervaar as jy “jou kruis opneem en Hom volg”. Dis nie kerkgangers wat intimiteit met God ervaar nie. Dis hulle wat waarlik hulle rug op hul sondige natuur gedraai het en gekies het om in Jesus se voetspore te volg. En elke mens wat getroud is het ‘n prentjie van intimiteit tussen God (bruidegom) en mens (bruid). Twee mense in ‘n huwelik, in ideale omstandighede, doen alles wat hulle doen uiteindelik sodat hul maat en kinders daaruit voordeel kan trek. Altwee werk hard en maak sekere opofferings, maar dan het hulle ook die voorreg om intimiteit met mekaar te kan geniet. En ek wil raai dat hoe groter die opoffering van beide kante, hoe groter die liefde, hoe beter die intimiteit... (Ek gee huweliksraad en ek’s nog nie eens getroud nie... maar ek glo dis ‘n beginsel wat in ideale omstandighede waar moet wees.)