Monday 23 November 2015

3. Die getuienis van die Heilige Gees

Hierdie inskrywing is deel van 'n reeks vir mense vanuit/ steeds in die Gereformeerde tradisie (kerke wat gegroei uit die die reformasie in die 16e eeu).


Wanneer Paulus vra “Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo?” (Gal.3:5), dan verwys hy nie na die Gees wat hulle in die verlede toegerus het nie, maar tans toerus. Hierdie teks ondersteun miskien die waarheid dat die Heilige Gees se bekragtiging van gelowiges nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, maar gedurig plaasvind in die lewe van die gelowige. Dit is amper soos ‘n selfoon wat gedurig herlaai moet word. 

Wanneer Paulus met geesvervuldes praat (soos gesien in Ef.4:3), gebruik hy ook die teenwoordige tyd wanneer hy vir hulle sê “laat die Gees julle vervul” (Ef.5:18). Waarom sal hy vir mense wat reeds Geesvervuld is sê om hulle weer met die Gees te laat vul? Omdat God nie vir ons ‘n geskenk gegee het en ons alleen verder op ons weg gestuur het nie. Net soos in ‘n verhouding met ‘n mens, kan daardie verhouding net groei en bly lewe wanneer mens tyd met mekaar spandeer. Wanneer ons tyd in die Heilige Gees se teenwoordigheid spandeer, word ons gevul met Hom en met sy krag. Dit moet gereeld gebeur. Die aanvanklike dinamiese en sigbare ervaring van die Gees na/tydens bekering bly dinamies en is hernubaar. 

Markus (16:20) het getuig dat die dissipels “toe die evangelie oral gaan verkondig [het], en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.” soos wat Jesus gesê het dit sal wees (vv.17-18). “Die Here” in vers 20 verwys sekerlik na die Heilige Gees, siende dat Jesus Christus in die vlees teen daardie tyd reeds opgevaar het na die hemel. Jesus het immers vir hulle gesê dat hulle sy getuies sal wees nadat die Heilige Gees oor hulle gekom het (Hand. 1:8). Paulus het gesê dat die evangelie nie slegs in woord na hulle toe gekom het nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees (1 Tess.1:5; 1 Kor.2:4-5; 4:19-20). Beide die skrywer aan die Hebreërs (2:4) en Paulus noem die gawes van die Heilige Gees en Paulus lys nege gawes (1 Cor.12:4,7-11). 

Die getuienis van die Handelinge van die Apostels is dat die manifestasie van die Geestelike gawes ‘n baie sigbare en onderskeibare demonstrasie van die Gees se teenwoordigheid en werk is binne-in en tussen gelowiges. Die manifestasie van ten minste een of meer van die gawes soos deur Paulus genoem behoort sigbaar te wees in die lewe van elke gelowige (soos die Heilige Gees kies (v.11)) want “aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.” As daar nie ten minste een van die gawes van die Gees sigbaar is in ‘n persoon se lewe nie, het daardie persoon baie waarskynklik nie die doping in die Heilige Gees ontvang nie, selfs al glo hy/sy dat Jesus die Christus is en ‘n gereelde kerkganger is. Daardie persoon het dan kopkennis oor Jesus Christus, maar nie verhoudingskennis nie, net soos wat ‘n mens kopkennis kan hê dat Mel Gibson ‘n akteur is, maar as jy hom nie persoonlik ken nie, kan jy hom nie jou vriend noem nie, en kan jy geen voordeel trek uit ‘n vriendskap wat nie bestaan nie. Selfs die Satan weet dat Jesus die Christus is, maar die Satan is nie “gered” nie want hy is in rebellie teenoor God. 

Die getuienis van die Skrif is dat bonatuurlike gawes en vermoëns diegene gevolg het wat nie slegs geglo het nie, maar ook gedoop was in die Gees. Ons lees van wonders, tekens en wonderwerke (Hand. 2:43; 6:8; 8:6,13; 13:11-12; 14:3; 15:12; Rom.15:19; Heb.2:4), die vrymoedigheid of dapperheid van die apostels om te preek
(4:13, 31, 33; 9:20; 14:3; 18:5), wysheid (6:10), mense wat uit die dood uit opgewek is (9:40-41), gebed of praat in tale (Hand. 10:46; 19:6),  profesie (Hand. 11:27-28; 19:6; 20:23; 21:9-11), genesende wonderwerke (Hand. 14:8-10; 28:8-9), die uitdryf van bose geeste (Hand. 16:18) en die woord van kennis (Hand. 8:23). Baie mense was by die kerk gevoeg deur die getuienis en bediening van die apostels (Hand. 2:41, 43, 47; 4:4; 5:12-16; 6:7). 

Terwyl die manifestasie van die gawes van die Gees die invulling van die Heilige Gees bevestig, dui ‘n sondige leefstyl op die afwesigheid van die invullende Gees van God. Paulus sê dat iemand wat ‘n slaaf is van sonde, vry is van die geregtigheid van God (Rom.6:20). Dit beteken dat ‘n mens nie heilige gedrag kan verwag van iemand wat nog nie “in Christus” is nie. Paulus sê vir die kerk in Filippense “Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind.” (Of in Engels For I have often told you, and now say again with tears, that many live as enemies of the cross of Christ. Their end is destruction; their god is their stomach; their glory is in their shame. They are focused on earthly things.”) (Phil.3:18-19). Ek het iemand gehoor sê “my sonde is soos skarlaken maar ek was nooit boring nie”. Dit is vir my ‘n voorbeeld van iemand wat sy skande verheerlik. Paulus sê “Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel. Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.” (Titus 1:15-16). Die aardsgesinde (of vleeslike) verstand en leefstyl is een van die duidelikste tekens dat ‘n persoon nie die invulling van die Gees ontvang het nie. Selfs al glo ‘n persoon dat sy saak reg is met God, kan sy woorde, gesindheid en dade ‘n ander getuienis gee. Hulle wat in Christus Jesus is, is hulle wat nie vleeslik lewe nie, maar onder leiding van die Gees. Paulus sê “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.” (Rom. 8:5-8)

Paulus sê “God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” (Rom.5:5). ‘n Persoon wat die Heilige Gees ontvang het sal die liefde van God op ‘n werklike manier ervaar. So ‘n persoon sal ook mense van ander kulture, tale en sosiale statusse kan liefhê en is in staat om nie voorveroordeeld te wees teenoor hulle wat anders is as hy nie. 

Iemand wat die Gees van Christus het, sal ook die Woord van God verstaan, aanvaar, gehoorsaam en verkondig. So ‘n persoon sal nie probeer om sy sonde te regverdig terwyl die Skrif duidelik daaroor is nie. 

Soos die profeet Jesaja gesê het “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter. Ellende wag vir dié wat dink hulle het die wysheid in pag, wat dink hulle het baie verstand. Ellende wag vir dié wat helde is by wyndrinkery, dapper by die meng van hulle drank…” (Jes. 5:20). 

Daar kan baie meer gesê word oor die verskillende maniere waarop die inwoning van die Gees sigbaar kan wees in die lewe van ‘n gelowige, maar hierdie wat hier genoem is, is sommige van die eerste tekens wat dui op die inwoning of afwesigheid van die Gees.


No comments:

Post a Comment