Monday 16 November 2015

4. Die babadoop in die Gereformeerde tradisie

Hierdie inskrywing is deel van 'n reeks vir mense vanuit/ steeds in die Gereformeerde tradisie (kerke wat gegroei uit die die reformasie in die 16e eeu).

Lees asseblief eers "Die getuienis van die Heilige Gees" alvorens jy hierdie inskrywing lees.


Aangesien dit die ontvangs van die Heilige Gees is wat ‘n persoon deel maak van die familie van God (1 Kor. 12:13), en aangesien dit die menslike wil en verstand betrek, is dit maklik om die gevolgtrekking te maak dat ‘n persoon nie by die familie van God ingesluit kan word deur as baba gedoop te word nie. Vir ouers om in die openbaar te verklaar dat hulle onderneem om hul kind in die weë van God groot te maak, is ‘n heel ander saak en hoef nie met ‘n ritueel gepaard te gaan nie. 

Dit is alreeds gewys dat geloof in Christus en bekering altyd die water en Heilige Gees dopings vooraf gegaan het, of ten minste is daar geen aanduiding in die Skrif dat die waterdoop plaasgevind het alvorens ‘n persoon tot geloof in Christus gekom het nie. Enige teologie wat probeer regverdig waarom babas gedoop moet word eerder as gelowige kinders of volwassenes, is ‘n teologie wat die lering van die Skrif minag of ignoreer. 

In reaksie tot hierdie argument teen die babadoop, dat daar geen enkele teks in die Skrif is om hierdie praktyk te ondersteun nie, bied Heyns [1978:342] aan dat die betekenis van die verbond in die boodskap van die hele Bybel vervat word. Alhoewel dit waar is dat die hele Bybel handel oor God en sy verbondsvolk, is Heyns se afleiding dat, omdat kinders dmv die besnydenis ingesluit was by die verbond met Abraham, kinders van gelowiges in die Nuwe Testament (nuwe verbond) ook ingesluit word deur die babadoop as ‘n vervanging van die besnydenis [p.342-343], ongegrond deur die getuienis en lering van die Apostels. So ‘n stelling word nêrens in die Skrif gemaak of geïmpliseer nie en kan daarom nie afgelei word nie. 

Presies die teenoorgestelde is waar. Dit word duidelik genoem dat geloof in Christus alleen die gelowige in die regte verhouding met God kan bring (Gal.3:24, 26; Ef.2:8-9; Rom.1:16-17; 3:28; 5:1-2). Wat ons in Abraham het is geregtigheid deur geloof wat slegs kom wanneer ‘n individu bekeer en tot geloof in Christus kom. Abraham “het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Afr53) (of in Engels “believed the LORD, and He counted it to him as righteousness” (Gen. 15:6; Rom 4:3, 9, 22; Gal.3:6; Jak. 2:23). Paulus verduidelik dit duidelik in Rom.4:11-12. 

Die geregtigheid van Abraham was nie verkry deur die besnydenis nie, maar deur geloof. Hy is die vader van almal wat glo, nie van almal wat besny is nie. Maar as mense dmv die besnydenis ingesluit was by God se familie, en die babadoop het dan die besnydenis vervang, dan kom geregtigheid voor God volgends die Nuwe Verbond nie deur geloof nie, maar deur werke (die moeite van die mens). En ‘n geregtigheid deur werke is presies dit wat Paulus verduidelik nie die Goeie Nuus nie. Dat babas gedoop moet word om hulle by die Nuwe Verbond in te sluit, is presies die tipe denkrigting wat vir Paulus so woedend gemaak het oor die Joodse gelowiges se skynheiligheid. Hulle het die nie-Jode gedwing om soos Jode te lewe, deur hulle sover te probeer kry om onder die wet te leef nadat hulle met die Gees vervul is (Gal.3:3). Paulus se reaksie daarop was “O, ONVERSTANDIGE Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet [besnydenis = babadoop] of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (of in Engels “O foolish Galatians! Who has bewitched you? It was before your eyes that Jesus Christ was publicly portrayed as crucified. Let me ask you only this: Did you receive the Spirit by works of the law [circumcision = baptism] or by hearing with faith?” (Gal.3:1-2). Hy het verduidelik dat “as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou [alles in Levitikus]. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. Want óns verwag deur die Gees uit die geloof die geregtigheid waarop ons hoop. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.” (Gal.5:2-6) en “as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.” (Gal.2:21). 

Paulus stel dus die besnydenis gelykstaande aan ‘n vertroue op die wet vir geregtigheid. Hy gaan voort om te sê dat “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham.” (Gal.3:7). Indien die babadoop die besnydenis vervang het, dan volgens Paulus se standaarde, is die babadoop gelykstaande aan vertroue op die wet vir geregtigheid in plaas van geregtigheid deur geloof. Paulus sou die babadoop op grond hiervan veroordeel het.

Paulus sê dat die “seën van Abraham” (Gal.3:14), wat die Heilige Gees is, kom as gevolg van geloof in die verlossende Christus, en maw nie deur babadoop nie. Hy sê dat Christus ons verlos het “sodat die seën van Abraham na die nie-Jode kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”(Gal.3:13-14). 

As die besnydenis dan geen krag het nie (Gal.5:6), en die babadoop word gelykstaande aan die besnydenis gestel, dan het die babadoop ook geen krag nie want dit is nie gedoen in geloof nie (geloof van die een wat gedoop word). Die besnydenis in die Ou Testament was ‘n ritueel. Geloof in Christus is nie ‘n ritueel nie. Geloof in Christus is die reaksie van die gelowige op ‘n openbaring dat Jesus die Seun van God is wat gekom het om ons met die Vader te versoen, dat Hy gesterf het en uit die dood opgestaan het en die Heilige Gees gee vir hulle wat na Hom toe kom sodat hulle ‘n nuwe lewe in Hom kan leef in plaas daarvan om in Satan se gevangenisskap te leef. Die waterdoop is die openbare verklaring van daardie keuse wat ‘n persoon gemaak het om op God se uitnodiging te reageer. 

Die waterdoop kan nie gelykstaande gestel word aan die besnydenis nie omdat die betekenis van elk van hierdie twee aksies van mekaar verskil in die ou en nuwe verbond. Sien die volgende inskrywing vir ‘n teologie van die bekeringsdoop. Wat die besnydenis van die ou verbond betref, sê Paulus “...Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus (Kol.2:10-11). Net soos wat die besnydenis ‘n teken was van die ou verbond, gepaardgaande met die vloei van bloed, so is die kruis van Christus die besnydenis van die Nuwe Verbond en gaan dit gepaard met die vloei van bloed. Die besnydenis van die Nuwe Verbond is dus die kruis van Christus en nie die babadoop nie. 


Wanneer ons “saam met Hom begrawe is in die doop, waarin [ons] ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het” (Kol.2:12), dan verklaar ons ons nuwe identiteit in Christus. Dit bring die gesprek by ‘n Bybelse grondslag vir die bekeringsdoop (waterdoop).





Bron:
Heyns J A 1978. Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel, Transvaal.

No comments:

Post a Comment