Monday 9 November 2015

1. Die doping in die Heilige Gees

Hierdie inskrywing is deel van 'n reeks vir mense vanuit/ steeds in die Gereformeerde tradisie (kerke wat gegroei uit die die reformasie in die 16e eeu).


Hierdie stuk was deel van my akademiese opstel vir die module Praktiese Teologie, vir die graad BTh(hons). In die studie oor die doping in die Heilige Gees het ek die praktyk/gebrek aan praktyk in die NG kerk ondersoek en vergelyk met wat ons sien in die Skrif. Ek skryf met 'n woordeskat wat enige Afrikaans sprekende kan verstaan:

In die lig van die NG tradisie is die eerste stap om vas te stel of die invulling van die Heilige Gees ontvang word tydens menslike geboorte of op ‘n later stadium deur persone wat “uitverkies” is vir redding, of gegee word aan hulle wat tot ware geloof in Christus kom asook bekering en ‘n oorgawe aan sy heerskappy. 

Dit moet eerstens genoem word dat die Heilige Gees nie bloot die krag van God is wat in gelowiges werk nie, maar ‘n Persoon in die Drie-eenheid (1 Joh. 5:7) met wie alle gelowiges ‘n persoonlike verhouding moet hê. Ter ondersteuning van hierdie stelling is Lukas se getuienis (Hand. 13:2) dat die Heilige Gees in die eerste persoon praat wanneer Hy instruksie gee dat Barnabas en Saulus afgesonder moet word vir die werk van die Here (bediening). Die Heilige Gees het ook in sy Goddelike gesag opgetree deur hulle op die sending te stuur (v.4).

‘n Ou Testamentiese studie (wat buite die reik van hierdie studie val) sal toon dat God die profete, priesters en konings (bv. Hand 1:16; 28:25; 1Pet.1:10-12; 2 Pet.1:21) in staat gestel het om in die krag van die Heilige Gees te bedien. Die uitgiet van die Heilige Gees op alle vlees was egter uitgestel tot en met die koms van Christus om die Koninkryk in te huldig (Joel 2:28). (Ons sal sien dat “alle vlees” as volg geinterpreteer moet word: Enige persoon kan die Heilige Gees ontvang en nie slegs ‘n koning, priester of profeet nie. Die lering van die Skrif in geheel wys dat daar egter die voorvereiste is dat die persoon eers tot ware bekering en oorgawe moet kom aan die heerskappy van Christus.)

Jesus het die Heilige Gees by sy waterdoop ontvang (Matt.3:16). Selfs die bediening van Jesus Christus, die perfekte, sondelose Seun van God het nie begin alvorens die doping in water en die Heilige Gees nie (John 2:4). Petrus het getuig dat Jesus gesalf was met die Heilige Gees en met krag (Hand. 10:38). 

Na sy opstanding en voor sy hemelvaart het Jesus aan sy dissipels gesê dat hulle die “belofte van My Vader” (Lukas 24:49; Hand. 2:33) sal ontvang. Hierdie belofte behels die doping in die Heilige Gees (Hand. 1:5) en hulle sou krag ontvang om sy getuies te wees dwarsdeur die wêreld (v.8). In Hand. 2:1 en 4 sien ons die vervulling van hierdie belofte. Die doping in die Heilige Gees is in werklikheid die invulling met die Gees (Hand. 4:8, 13, 31; 6:3, 5, 8; 7:55; 9:17; 13:52). Was die uitstorting van die Heilige Gees ‘n eenmalige gebeurtenis (en skynbaar die siening van Heyns  [1978:295]), wat beteken dat alle mense vandag by geboorte of babadoop automaties die invulling van die Heilige Gees ontvang? Of op wie word die Heilige Gees uitgegiet en wanneer? 

In Petrus se eerste preek nadat hy die Gees ontvang het, het hy die volgende instruksie gegee:  “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (Hand.2:38)

In Hand.17:30 (sien ook 26:20) verklaar Paulus dat “God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer.”  Christus het ook gesê dat ons tot bekering moet kom, ons ou weë laat staan en sy Woord moet gehoorsaam (Matt.4:17; Lukas...). Bekering is die keuse om weg te stap van die heerskappy van Satan en onder die heerskappy van Christus in te kom (Kol.1:13) en om van die ou manier van lewe weg te draai en om te draai na ‘n nuwe lewe in Christus (Kol.3:3). Dit is ‘n wegdraai van die sondige natuur waarmee ons gebore is en wat oorgeërf is van Adam (Rom.5:12), en ‘n besluit om toegewyd in die weg van Christus te volg (Ef.2:1-3; Kol.2:13; Kol.1:21). Dit word moontlik gemaak deur die krag van die Heilige Gees en dus die rede waarom God die Heilige Gees gee aan almal wat tot bekering kom. 

Paulus sê dat God die Gees gee as “waarborg”: Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee” (2 Cor.1:22; 5:5).  Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees.” (Ef.1:14). “Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het” (v.13). Dit is dus duidelik dat dit die gawe van die Heilige Gees is waarmee God die Vader ‘n persoon merk as sy eiendom en nie deur die water doop nie. Hand.15:8 “En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons”. Hierdie geld vir elkeen van ons, Jood of nie. 

Petrus het voortgegaan deur te sê “Hierdie belofte [van die invulling van die Heilige Gees] is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.” (Hand.2:39) Dit is dus ‘n belofte met ‘n voorvereiste: almal wat tot bekering kom en hulle laat doop in water, sal die Heilige Gees ontvang. Dat die belofte vir hulle kinders ook geld, beteken nie dat hulle kinders die Heilige Gees outomaties sal ontvang nie. Die belofte geld vir almal maar die voorvereiste geld ook vir almal. Petrus en die ander apostels sê “...die Heilige Gees wat God gegee het aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” (Hand.5:32). Petrus verduidelik aan die Joodse gelowiges dat die Heilige Gees aan die nie-Joodse gelowiges ook gegee word (Hand.11:17): “Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?”. Die Joodse gelowiges het gereageer deur te sê “So God has granted repentance resulting in life even to the Gentiles! ” (HCSB) (In Afrikaans beteken dit God het aan nie-Jode ook die geleentheid gegun om tot bekering te kom”. Beide geloof en bekering is dus die voorvereistes vir die ontvangs van die Heilige Gees. En die Heilige Gees wat deur God gegee is aan ‘n persoon, is God se bevestiging dat daardie persoon nou aan Hom behoort. 

Tot dusver is dit duidelik vanuit die Skrif dat geloof in Christus, gehoorsaamheid en bekering tot lewe in Christus (repentance resulting in life) voorvereistes is vir die ontvangs van die Heilige Gees. 

Strong’s (#4100) sê van die Griekse woord pisteuo (glo) dat dit meer is as “geloofwaardigheid” in kerk doktrines. Dit beteken om ‘n vaste persoonlike vertroue asook ‘n afhanklikheid te hê wat gehoorsaamheid voortbring. Dit sluit in onderdanigheid en ‘n positiewe belydenis van die heerskappy van Christus.

Geloof is dus met ander woorde nie slegs ‘n kognotiewe / intelektuele standpunt wat deur ‘n persoon ingeneem word nie. Dit is ‘n hartsaak. ‘n Verhoudingsaak. ‘n Persoon moet nie slegs glo in die historiese Jesus Christus nie, maar moet ook draai om Hom te volg (bekering), wat beteken om Hom te gehoorsaam en te ken. Jesus het ook gesê dat gehoorsaamheid aan sy Woord die bewys sal wees dat ‘n persoon Hom liefhet (Joh.14:23).  Paulus het gesê dit is “net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: “Jesus is die Here.” (1 Kor.12:3). Wat nodig is, is ‘n hartsgesindheid wat onderdanig is aan die Heerskappy van Christus. As iemand waarlik Jesus die Here van sy lewe gemaak het (bewys deur woord en daad), dan het daardie persoon ook die Heilige Gees ontvang. Johannes sê dat “Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.” (1 Joh.3:24). Die heerskappy van Christus in die individu se lewe is nie moontlik sonder die intieme verhouding met die Heilige Gees nie. ‘n Persoon kan Jesus dus nie volg sonder die invulling van die Gees nie. 

Gevolglik is dit waar dat hulle wat die evangelie hoor maar nie glo en nie tot bekering kom nie, nie die gawe van die Heilige Gees kan ontvang nie. Lukas het nie pertinent genoem dat Stefanus, wie gevul was met die Gees en met krag en daarom groot wonders en tekens onder die mense gedoen het (Hand.6:5,8), die evangelie aan hulle wat hom gekonfronteer het, verduidelik het nie (v.9). Ek dink dit kan egter met veiligheid aangeneem word. Hulle wat hom konfronteer het, het dus die evangelie gehoor, maar het nie tot bekering gekom en na Christus gedraai nie. In plaas daarvan het hulle die Heilige Gees weerstaan (Hand.7:51). “You stiff-necked people with uncircumcised hearts and ears! You are always resisting the Holy Spirit; as your ancestors did, so do you.” (HCSB) Die besnydenis (circumcision) was ‘n teken van die verbondverhouding wat God met Abraham gehad het en word hier as ‘n metafoor gebruik. Hulle wat dus  “uncircumcised in heart” is, is mense wat nog nie onderdanig aan Christus geword het nie en dus nie deel van die nuwe verbond met God is nie (Lukas 22:20). Hulle wat die Heilige Gees weerstaan is dus hulle wat nie aan Christus behoort nie. 

Nou is die vraag, op watter tydstip ontvang ‘n gelowige die Heilige Gees? Nadat Samaria die Woord van God gehoor en ontvang het (hulle het dit maw geglo) (Hand. 8:14), het hulle nie outomaties en onmiddelik die invulling van die Gees ontvang nie.  

Petrus en Johannes is na hulle gestuur om vir hulle te bid om die Heilige Gees te kan ontvang “Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop.” (v.16). Hulle het dus beide die Woord van God ontvang en was gedoop (in water) in die Naam van Jesus Christus, maar nie een van hierdie gebeurtenisse het outomaties die invulling van die Heilige Gees ingesluit nie. Petrus en Johannes moes vir hulle bid en hande oplê alvorens hulle die Heilige Gees ontvang het (vv.15 and 17). 

Saulus ook gebed en die oplê van hande benodig vir die invulling van die Gees, selfs na sy dramatiese bekering op die Damaskus pad waar Jesus aan hom verskyn het en in ‘n hoorbare stem gepraat het (Hand. 9:3-4, 17). Later in sy bediening het Paulus ‘n paar dissipels in Efese aangetref wat net in Johannes die Doper se doop gedoop was. Hy het ontdek dat hulle nie eens geweet het daar is die Heilige Gees nie en dus ook nie daardie doping ontvang het nie (Hand. 19:1-7). Nadat Paulus vir hulle van die Heilige Gees vertel het en hulle gedoop het in die Naam van Jesus, het hy hulle ook hande opgelê en het hulle die Gees ontvang. Hierdie twee dope (in Christus en die Heilige Gees) was afsonderlike gebeurtenisse in hierdie geval. 

Soos gesien in die gevalle van die Samaritane, die Efesiërs en Saulus, verseker die ontvangs van die Woord van God en die doop in die Naam van Jesus nie noodwendig die outomatiese en onmiddelike invulling van die Heilige Gees nie. Vanuit hierdie voorbeelde sien ons dat die oplê van hande en gebed, en dit deur ‘n ander Gees-vervulde gelowig, nodig is wanneer dit duidelik word dat ‘n persoon moontlik al tot geloof in Christus gekom het, maar nog nie in die Heilige Gees gedoop is nie (sien afdeling 3.3 “Getuienis van die Gees” onder).  

Ons sien in die geval van die Romeinse centurion Cornelius se bekering dat mense die Heilige Gees ontvang het sonder dat iemand vir hulle hande opgelê het. Petrus was besig om die evangelie aan Cornelius en sy familie en vriende te verduidelik en “terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het.” (Hand. 10:44). Ons lees nie eers dat ‘n ander gelowige spesifiek vir die invulling van die Gees gebid het nie, maar slegs dat die mense die boodskap gehoor het. Lukas noem ook nie of al daardie persone wat teenwoordig was die boodskap geglo en tot bekering gekom het alvorens hulle die Heilige Gees ontvang het nie, maar soos reeds bewys uit die Skrif weet ons dat geloof en bekering voorvereistes is vir die ontvangs van die Heilige Gees. Mens kan daarom aanvaar dat daar bewyse was dat hulle wel die Heilige Gees ontvang het, anders sou Lukas nie met soveel sekerheid kon sê dat hulle die Gees ontvang het nie. Die sigbare manifestasie van die gawes van die Gees sou die aanduiding wees dat hulle wel tot bekering gekom het. 

Ek ken ‘n sendingpaar in die Midde-Ooste wat die evangelie met ‘n Moslem man gedeel het. Nadat die man van Islam bekeer het tot Jesus Christus, het hulle begin om hom te leer hoe om Jesus te volg. Hulle het nog nie by die punt gekom waar hulle aan hom verduidelik het dat hy in die Heilige Gees gedoop moet word nie, toe hy eendag vir hulle vertel dat ‘n vreemde ding met hom gebeur het terwyl hy alleen was. Soos wat hy hierdie gebeurtenis beskryf het, het die sendingpaar besef dat dit die Heilige Gees doping was waarvan hy gepraat het. Die gebedstaal wat hy ontvang het was vir hulle die bevestiging dat die gebeurtenis wel die doping in die Heilige Gees was. 

Op die vraag of redding en Heilige Gees doping op dieselfde tydstip of op verskillende tye, is dit op hierdie stadium duidelik dat beide moontlik is en beide voorkom in die Skrif. Vir Cornelius en sy vriende het dit op dieselfde tyd gebeur waar dit vir die Efesiërs op verskillende tye gebeur het. 

In opsomming: Jesus het aan die kruis vir die mensdom ingetree sodat hulle genade (mercy) van die Vader kon ontvang. Rekonsiliasie met die Vader is nou beskikbaar vir elke mens. Omdat God ‘n verhoudingswese is en nie ‘n onpersoonlike wese nie, vereis Hy ‘n persoonlike reaksie van elke individu. Hierdie aksie behels geloof (pisteuo), bekering en onderwerping aan sy Heerskappy. God bevestig dan dat die persoon aan Hom behoort deur aan hom die Gees te gee. Die werklike teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees kan deur so ‘n persoon beleef word. Die oplegging van hande is soms nodig waar dit duidelik is dat ‘n persoon nog nie met die Gees gevul is nie. 

Daar moet onderskeid getref word tussen die alomteenwoordigheid van God en die inwoning van God. Die Heilige Gees is alomteenwoordig in die wêreld en sien alles wat elke dag met elke mens op aarde gebeur. Maar die alomteenwoordigheid van God bring ons nie outomaties in ‘n intieme verhouding met God nie, want dan sou Hitler ook die Heilige Gees gehad het. Maar die Heilige Gees is slegs tuis en inwoned in persone wat tot geloof en oorgawe aan die Heerskappy van Christus gekom het. Daarom word alle persone nie deur die Gees van God gelei nie, maar slegs diegene wat Hom in nederigheid ingenooi het. Die Gees van God is ‘n “gentleman”, ‘n ware heer, nie ‘n verkragter nie. Die uitstorting van die Heilige Gees in die bokamer waar die 120 bymekaar was, was dus slegs die eerste uitstorting van die Heilige Gees op Christene wat reeds tot bekering gekom het en nie ‘n eenmalige gebeurtenis wat alle mense outomaties betrek nie. 

Die verhouding tussen die invulling van die Gees en redding sal aandag geniet in die volgende inskrywing.

No comments:

Post a Comment