Friday 6 November 2015

Hou nie boek van die kwaad nie



Ware Liefde hou nie boek van die kwaad nie
2013, Pretoria

My naam is Anita. My naam beteken “little gracious one”. Die woord Anna beteken genade. “ita” is die Spaanse verkleiningsvorm. Maar ek het tot dusver in my lewe my naam te veel keer nie gestand gedoen nie. Nie soos Jesus nie. As ‘n jong Christen het ek die openbaring gekry dat alles vir God oor liefde gaan. Maar met ongeneesde seer in my lewe het ek vir baie lank veral familie-lede se foute en tekortkominge en mislukkings (in my oë) wat ‘n effek gehad het op my, teen hulle gehou en dus gesukkel om gesonde verhoudings te kweek. Ek wou hê hulle moet eers ‘regkom’ en ‘regmaak’ voordat ek my hart oopsluit om hulle lief te hê. Oor die jare het God in soveel liefde en dikwels dmv kinders van die Here se liefde en gebed elke stukkende plek gesond kom maak, oues en nuwes, en hoop gebring waar daar voorheen teleurstellings was. Veral oor die laaste 2 en ‘n half jaar het Hy my kom oorweldig met sy jaloerse liefde en by tye was (en is) my ervaring van sy teenwoordigheid en liefde so intens dat dit voel of my liggaam nie sy heerlikheid kan hanteer nie. My ervaring van sy liefde is so werklik dat elke liefdevolle aanraking van Hom die trane uit my oë laat spat. Ek voel weggeblaas deur die besef hoe intens Hy na elkeen van ons verlang. Dit voel of my verhouding met die Liefde van my lewe nooit beter kan raak as dit nie. 

Maar op die 17e Maart hierdie jaar (2013), het ek die grootste openbaring van my lewe gekry. Ek kon nog nooit my medemens liefhê soos my God my liefhet nie. Ek was onder die indruk dat my optrede en woorde in my verhoudings meestal uit liefde gemotiveerd was, want om te verwag dat iets “reg” gedoen word, is mos ook liefde, of hoe? Ek het al baie liefdevolle dinge gedoen vir vriend en vreemdeling, al baie opofferings gemaak in vriendskaps- en familie verhoudings en het dikwels ten minste die behandeling terug verwag wat ek gevoel het kom my toe. Soms, as ek nie die verwagte behandeling ontvang het nie, dan het ek dit (afhangend van hoe ernstig ek die situasie beskou, of hoe naby die persoon aan my is) teen hulle gehou en gewag dat hulle hul optrede verander voordat my hart gedraai het. Dis mos net regverdig, of hoe? Dis mos hoe die lewe werk? As die verhouding dan skade gely het, was dit mos die ander party se skuld en kan ek niks daaraan doen nie, al breek my hart hoe, maar die persoon bly my skuldenaar want dis hoe dit is…

Tot die naweek van 16/17 Maart toe ek twee boodskappe met dieselfde tema by twee verskillende konferensies gehoor het, Hettie Brittz met “Kies genade” (Merkwaardige Vroue konferensie, Moreleta Gemeente, Pretoria) en Fred May met “Speak the truth in love” (Shofar Planted konferensie, Pretoria) en ek besef het dat die “accountant” en “supreme court judge” binne my moet sterf. Ek weet baie goed “die liefde hou nie boek van die kwaad nie”, maar ek het nou besef hoe sleg ek dit verstaan het. Ek het gedink ek verstaan die konsep van vergifnis baie goed, en ek het nog altyd geglo ek het meestal nie probleme om te vergewe nie, maar terwyl ek die ander persoon beskou het as my skuldenaar, dan het ek mos nie heeltemal vergewe nie?

Ek was al genoeg in my lewe gebroke voor die Here oor seer wat deur ander mense en omstandighede in my lewe teweeg gebring is, maar ek kan nie onthou dat ek ooit in my lewe so gebroke was oor die onbeskryflike skade wat my optrede en gesindheid moontlik aan ander gedoen het nie, weens my onvermoë om die ware onvoorwaardelike liefde van Jesus uit te leef. Ek het ‘n groot “blind spot” gehad. God het gelukkig geweet watter omstandighede en proses in my lewe nodig was om my by die punt te bring waar ek hierdie groot “blind spot” kon raaksien. Ek het die “lig” gesien en Jesus het my vergewe. Hy weet dat ons dikwels net loop met die lig wat voor ons voete is. Hy verstaan. En op sy tyd het my oë oopgegaan. Op die beste plek in my verhouding met Hom het Hy my kom wys wat die swakste plek in my verhouding met my medemens was. Dit is asof die son vir my opgekom het vir die eerste keer in my lewe. Ek is onbeskryflik dankbaar vir die openbaring en vir God se genade en liefde wat my voortaan gaan help om lief te hê soos Jesus liefhet. Onvoorwaardelik. Iemand het eendag gesê die woorde “onvoorwaardelike liefde” kom nie voor in die Bybel nie. Maar as ons mooi dink, sal ons besef dat as Hy ons voorwaardelik liefgehad het, niemand van ons vandag hier sou gewees het nie. As sy liefde voorwaardelik was, sou sy liefde my nooit kon heel maak sodat ek by die punt kon kom waar ek ander met dieselfde tipe liefde sou kon liefhê nie. Hy wag nie vir ons om alles reg te doen voor Hy ons liefhet nie. Hoe durf ek dit verwag? Hoe durf ek? Ek gaan sekerlik nog meer leer oor hoe om sy liefde aan ander te betoon, maar ten minste weet ek nou hoe sy liefde nie lyk nie. Ek het Hom gevra vir sy genade en leiding sodat, tesame met alles waartoe Hy my roep, dit my lewensmissie sal wees om die liefde van Christus so akkuraat as moontlik te praat namens. 

Miskien is daar van julle wat soos ek, vir ‘n lang tyd gewens het dat hulle wat jou te na gekom het, net teenoor jou erken dat hulle foute gemaak het, dat hulle dit gemis het, en net sê “jammer”. Ek moet ongelukkig vir jou sê dat jy die meeste van die tyd nie ‘n “jammer” gaan kry nie. Ek bid dat jy die openbaring sal kry wat jou sal vrymaak van jou “offence”, want jou “offence” steel God se vreugde en vrede uit jou hart. Ek bid vir jou vir dieselfde mate van deurbraak as wat ek beleef het. Daar is min ander dinge so bevrydend en so lieflik. Ek bid vir jou om God so naby te ervaar dat jy in jou gees kan voel hoe Hy jou vashou in sy arms. 

Maar ek wil tog namens elke persoon in jou lewe wat jou te na gekom het, “jammer” sê en vir jou onthalwe, vir jou vra om hulle te vergewe. Ek het aan ‘n paar voorbeelde gedink, nie noodwendig voorbeelde uit my eie lewe nie. 

Ek praat namens die pa wat jou nie onvoorwaardelik liefgehad het nie, vir wie jou prestasies en sukses meer belangrik was as die feit dat jy net sy dogter of sy seun was, die pa wat nie met jou tyd spandeer het nie omdat hy self so besig was om te werk aan sy sukses. Vergewe hom en bid vir hom.
Ek praat names die alkoholis pa wat jou geslaan en/of verskree en/of gemolesteer het op die mees kwesbare stadium van jou lewe. Hy het self nooit ware liefde geken nie. Vergewe hom en bid vir hom. 

Ek praat namens die ma wat nie die ma kon wees wat jy nodig gehad het nie omdat haar eie lewe so ‘n gemors was. In en uit huwelike die heeltyd. Sy’t nog nie vir Jesus by die put ontmoet nie. Vergewe haar en bid vir haar.

Ek praat namens die ma wat haar volwasse probleme met jou as kind bespreek het. Jy was nooit veronderstel om daardie las op jou skouers te dra nie. Vergewe haar en bid vir haar. 

Ek praat namens die onderwyser wat jou gestraf het toe jy net nodig gehad het dat hy jou situasie begryp en genade betoon. Hy verstaan geregtigheid, maar nie genade nie. Vergewe hom en bid vir hom.

Ek praat namens die pastoor wat nie daar was toe jou kind siek was nie, want hy was so besig met al die ander mense in die kerk wat nood het.  Vergewe hom en bid vir hom. 

Ek praat namens die kind wat met sy ouers kontak verbreek het oor hulle nie sy keuse van lewensmaat goedkeur nie. Betoon aan hom/haar onvoorwaardelike liefde. Vergewe hom en bid vir hom. 

Ek praat namens die suster wat gereeld vir jou probeer aanmoedig om kerk toe te gaan terwyl jy net iemand nodig het om aan jou Jesus se onvoorwaardelike liefde te demonstreer. Dit is dalk die enigste manier waarop sy in staat is om haar liefde en omgee vir jou te wys. Vergewe haar en bid vir haar. 

Ek praat namens die leiers in jou lewe wat vir jou ‘n swak voorbeeld was en jou vertroue in mense skade gedoen het. Hulle is net mense met sonde. Kyk na Jesus vir jou beste voorbeeld. Vergewe hulle en bid vir hulle.

Ek praat namens die vriendin wat aangedring het daarop dat sy reg is en jy verkeerd en dat jy jou foute moet erken voordat haar hart sal draai. Sy het die konsep van onvoorwaardelike liefde nog nie verstaan nie. Vergewe haar en bid vir haar. 

Ek praat namens die gemeentelid in jou kerk wat jou teleurgestel het want hy het net nie opgetree soos wat jy as leier van hom verwag het nie. Vergewe hom. Wees lief vir hom. Moenie hom merk as 'n rebel nie. Respekteer sy vrye wil en vertrou die werk van die Heilige Gees in hom. Ek bid vir jou om die liefde van die Vader so intens te ervaar dat dit nie meer vir jou sal saakmaak dat ander mense nie na jou sin "perform" nie.

Jy kan jou eie lysie maak van mense wie jy moet vergewe. Moenie na hulle kyk om jou behoefte na liefde en aanvaarding en ‘affirmation’ te vervul nie. Dit gaan dalk nooit gebeur nie. Jesus alleen kan dit doen deur sy Gees, en dit kan meer werklik en meer intiem wees as wat enige mens liefde kan betoon. 

Ek bid vir julle almal die onbeskryflike vrede en liefde van Jesus Christus wat ons almal eerste liefgehad het. Hy het sy lewe gegee vir jou. Maar Hy het ook opgestaan en Hy het jou werklik en innig, onvoorwaardelik lief. Sy liefde vergaan nooit nie.

No comments:

Post a Comment