Thursday 12 November 2015

Ongelowige Thomas - Ervaar jy Jesus as 'n werklikheid?



Ek bring hierdie boodskap op die 17e November aan 'n groep vroue in een van die VLU takke in Nelspruit. Dit is hulle afsluitingsgeleentheid vir die jaar en die tema van die jaar was Indië.

Ervaar jy Jesus as 'n werklikheid? 
 
Die apostel Johannes vertel dat nadat Jesus uit die dood uit opgestaan het, het ‘n paar van sy volgelinge Hom gesien. Maria Magdalena was die eerste een wat Hom vroeg die Sondag oggend gesien het en het toe die ander dissipels daarvan gaan vertel. Lees Johannes 20:19-31

Ons sien dat Thomas nie wou glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie al het die ander dissipels, sy goeie vriende wat hy drie jaar lank saam mee gelewe het, vir hom gesê dat hulle Hom gesien het. Hy wou met sy eie oë sien dat Jesus Lewe en met sy eie hande aan die wonde raak. En toe Hy uiteindelik vir Jesus sien, het Jesus voorsiening gemaak vir sy ongeloof deur hom toe te laat om aan sy wonde te raak. Maar Jesus sê toe dat hulle wat nie sien nie en tog glo, geseënd is. 

In Mattheus 16:13-17 lees ons dat Jesus vir sy dissipels gevra het wie hulle dink Hy is. Hulle het geantwoord wat hulle ander mense hoor sê het. Sommige van daardie mense het gesê Hy is Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het. Ander het gesê Hy is Elia, Jeremia of een van die profete. Maar Jesus het toe vir hulle gevra, “Wie sê julle is Ek?”. Petrus het geantwoord “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Jesus se reaksie was “Gelukkig is jy, Simon Seun van Jona, want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.” Het julle jul al ooit probeer verbeel hoe Thomas se lewe verloop het na Jesus se hemelvaart? 

Dit sal julle interesseer om te weet dat volgens oorlewering het ongelowige Thomas, van al die dissipels, die evangelie die verste verkondig, so ver as Indië. Blykbaar was Thomas oortuig daarvan dat die sending na Indië sou misluk, maar het gegaan omdat hy Jesus in ‘n visioen aan Hom verskyn het en daarop aangedring het dat hy gaan. Hy het eers na Noord Indië gegaan waar hy geld gegee was om vir die koning ‘n paleis te bou, aangesien hy ‘n bouer was.  Maar Thomas het toe die geld vir die armes gegee en vir gesê dat hy besig is om ‘n paleis in die hemel te bou. Hy was toe in die tronk gegooi maar later het die koning toe ‘n Christen geword en is hy vrygelaat. 

Hy was ook na die suide van Indië waar ‘n aantal Brahmans, mense van Indië se priesterlike orde, onder sy bediening tot bekering gekom het en hy ‘n welvarende kerk gevestig het. 

Hy het blykbaar sover as China gereis. Suid-Indiese handelaars het dikwels oos gevaar en hy sou dus so daar gekom het. Met sy terugkeer van China af het hy besluit om die evangelie in Oos-Indië te verkondig, waar hy sy marteldood teëgekom het. Thomas het in Julie van die jaar 72 n.C in ‘n stad aan die ooskus van Indië, naamlik Mylapore, verby ‘n koppie geloop waar ‘n tempel van die afgodin Kali gestaan het. Die priesters in die tempel het toe aangedring daarop dat hy haar aanbid en toe hulle hom sover gekry het om in die tempel in te stap, het die teenwoordigheid van die godin (wat in werklikheid ‘n bose gees is) uit die tempel uit verdwyn. Die priesters was woedend en vier soldate was toe beveel om hom met ‘n spies dood te steek. Thomas is toe daar op ‘n klein koppie in die stad Mylapore begrawe. Die bekende historiese skrywers (ten minste in teologiese kringe) naamlik Eusebius en Jerome het in die 3e, 4e en 5e eeue beide oor Thomas se apostoliese werk in Indië geskryf. Toe die Portugese Christene Indië bereik het in die 16e eeu, was hulle verstom om ‘n aktiewe kerk daar te vind. Thomas se werk het eeue later nogsteeds vrug gedra. Die Portugese het sy graf besoek en gevind dat Thomas teen daardie tyd nogsteeds deur beide gelowiges en nie-gelowiges vereer was. Vandag staan die kerk in die suidwestelike staat van Kerala in Indië nogsteeds sterk waar Christene al vir baie lank na hulself verwys as die “Christene van St. Thomas”. Daar is nogsteeds ‘n lewende tradisie van stories, liedere en danse onder die Malabar Christene wat die werk van die apostel in suid Indië beskryf. Hulle vier ‘n feesdag op die eerste Sondag na Goeie Vrydag, toe Jesus daardie bekende vraag aan Thomas gevra het.

Ek glo dat Jesus se vraag aan sy dissipels vir elkeen van ons vandag geld. Hy vra vir elkeen van ons “Wie sê jy is Ek”? En Hy verwag ‘n antwoord van elkeen van ons. Wat is jou antwoord in jou gedagtes soos jy nou daar sit? Het jy soos Petrus ‘n openbaring gehad dat Jesus die Seun van God is en opgestaan het uit die dood en vandag lewe? En ken jy Hom persoonlik? Of weet jy net van Hom? Of as jy regtig eerlik is met jouself, glo jy dat Jesus lewe omdat dit oor soveel jare aan jou verkondig is maw jy glo dit met jou verstand maar nie noodwendig met jou hart nie? Of glo jy in Jesus omdat Hy ‘n werklikheid is in jou lewe? En as Hy vir jou ‘n werklikheid is, het jy stories om te vertel van hoe Hy al in jou lewe gewerk en wonderwerke gedoen het? Weet jy soos Thomas geweet het, dat Jesus leef? Maw deur persoonlike ervaring? Is jy so seker van jou oortuiging dat jy bereid sou wees om daarvoor te sterf, soos Thomas. Of wag jy nog om oortuig te word? 

Die goeie nuus wat ek vandag met julle wil deel is dat God die Vader nie vir jou kwaad is as jy sukkel om te glo nie, of as Jesus nog nie vir jou ‘n persoonlike werklikheid is nie. Ons leer uit die verhaal van Thomas dat God ruimte maak vir mense wat van nature pessimiste is en dat ons nie van alle mense kan verwag om dadelik te glo nie. Die goeie nuus is dat Hy vir jou wag om na Hom toe te kom, jou hand in syne te plaas en die pad saam met Hom te begin loop. Hy wil jou liefhê, koester, versorg, vir jou voorsien, jou lei en jou gesond maak as jy emosionele of fisiese wonde het en dalk het Hy nog vir jou ‘n spesifieke taak of twee op hierdie aarde voor jou vervaldatum. 

Ek het lank gelede eendag vir ‘n vriendin wat naby aan Jesus geleef het, gevra of sy dink ek mag bid en vra dat Jesus vir my ‘n werklikheid word. Haar antwoord was iets soos “ja, natuurlik”. ‘n Ander vriendin het dikwels vertel hoe sy die Here se stem gehoor het. Eenkeer het Hy vir haar gesê waar sy my kan kry want sy wou met my kuier. Dit was die dae voor selfone. En daar het sy my toe gekry waar Hy vir haar gesê het. Ek het maar net gedink daar is seker iets fout met my dat ek nie sy stem so kan hoor nie. Tot eendag wat ek ernstig oor ‘n saak gebid het en toe vir die eerste keer sy stem gehoor het. Dis nou ongeveer 18 jaar later. Alhoewel ek Hom nog nie fisies gesien het nie, het ek sy wonderwerke in my en ander mense se lewens gesien en beleef en is ek 110% oortuig dat Jesus leef en dat Hy elkeen van ons persoonlik wil ken en wil hê dat elkeen sy stem hoor net soos wat Hy ons stemme hoor. Hy is nie net ‘n storie in ‘n ou boek nie, maar ‘n werklike Persoon, God self. Ons kan Hom nie sien nie, maar wanneer ons hom deur die Heilige Gees leer ken, raak Hy vir ons ‘n groter werklikheid as ons aardse omstandighede. 

Ek het historiese inligting vanaf hierdie artikel gekry:
http://www.christianhistoryproject.org/to-the-destruction-of-jerusalem/st-peter-the-apostle/st-thomas-the-apostle/ 

My gebed vir jou:

Vader, dankie dat ek na U kan kom in die Naam van Jesus Christus, U Seun wat uit die dood opgestaan het en vandag lewe. Dankie dat daar vir ons vergifnis en vryspraak is wanneer ons ons sonde voor U bely. Dankie dat ons U kan ken deur U Woord en deur vriendskap met U Heilige Gees, die derde Persoon in U Drie-eenheid. Dankie dat ek kan weet dat U intens verlang daarna om elke mens wat U geskape het, persoonlik te ken en persoonlik met elke persoon te wandel. Vir die pragtige, kosbare, geliefde persoon wat hier lees en wat wat U nog nie as ‘n werklikheid ervaar nie, wil ek vra dat U hulle tegemoet sal kom en op ‘n unieke wyse Uself aan elkeen bekend sal maak, soos wat U dit vir Thomas gedoen het. Of openbaar aan hulle wie U is soos wat U vir Petrus gedoen het. En vir elke pragtige, kosbare en geliefde persoon wat in sy/haar hart begeer om U persoonlik te ken sodat sy/hy ook kan sê “ek weet Hy het my lief; ek hoor sy stem; Hy lei my” vra ek dat U mense oor haar/sy pad sal stuur om haar/hom te help, want U het nooit bedoel dat ons die pad alleen stap nie. Ek bid vir haar/hom dat sy ook die vrymoedigheid sal hê om met iemand te gaan praat as sy aanvoel dat daardie persoon U persoonlik ken en vol is van U Heilige Gees. 

Abba Vader, ek vra dat U Woord sal vrug dra in elke lewe wat vandag hier lees.
In die Naam van Jesus
Amen

No comments:

Post a Comment