Friday 1 January 2016

'n Kort geskiedenis van kersfees (historiese feite)

Vir hierdie artikel het ek die artikel oor kersfees (of die Christusfees, ‘n beter beskrwing) op Wikipedia gelees. Ek glo dit is ‘n goeie en betroubare bron van inligting omdat dit gebaseer is op geskiedkundige feite uit meer as 234 literatuurbronne. Die inskrywing “Mag ons kersfees vier en hoekom?” het ek geskryf nadat ek ervaar het dat die Here aan my openbaar het dat die 25e Desember aan Christene behoort en ons met vrymoedigheid aan die feesvieringe kan deelneem soos Hy ons lei en soos dit Hom verheerlik en mense nader aan Hom bring. Hierdie artikel gaan meer oor die geskiedenis van kersfees.  Hierdie is maar ‘n opsomming en dit sal goed wees as jy jou eie navorsing kan doen, maar as jy nie tyd of lus daarvoor het nie behoort hierdie volledig genoeg te wees. Lees dan ook die inskrywing oor die “contextualization of the Gospel”.  

Volgens die Wikipedia artikel is daar nie sekerheid oor wie eerste feesgevier het op die 25e Desember nie, Christene of heidene.

1.         Die een moontlikheid is dat die feesviering op die 25e Desember plaasgevind het voordat dit deur heidense praktyke beïnvloed is. Kersfees, die viering van die geboorte van Christus, is so vroeg as die vierde eeu na Christus gevier is (so vroeg as 311 nC). Dit blyk dat die dag aanvanklik gekies is om ooreen te stem met die dag presies nege maande nadat die vroeë Christene geglo het die dag is waarop Maria swanger geword het, naamlik die 25e Maart. Dit is nie onmoontlik dat Jesus in Desember gebore kon gewees het nie. Die herders het hulle skape nie net in die somer in die veld opgepas nie, maar ook in die winter. Ons lees in Genesis 31:38-40 dat Jakob in die winter skape moes opgepas het want hy het soms in die nag bitter koud gekry. ‘n Spesiale groep bekend as die herders van Migdal Eder (Genesis 35:19-21, Miga 4:8) het dwarsdeur die jaar hul skape in die nag opgepas wat uitgehou was vir offerhandes in die Tempel naby Bethlehem.

Wat baie interessant is, is dat daar geglo was dat die 25e Maart (volgens die Joodse kalenderdag 14 Nisan), die eerste dag van die Skepping was, asook die dag waarop die Israeliete uit Egipte bevry is, asook die dag waarop Jesus deur Maria van die Heilige Gees ontvang is en die dag waarop Hy aan die Kruis gesterf het. (Sien die Wikipedia artikel vir meer hieroor.) Die geboorte (Skepping van die son) en Maria wat swanger geword het met Jesus val dus min of meer op dieselfde dag.

As hierdie eerste moontlikheid die waarheid is, dan is kersfees mettertyd beïnvloed deur heidene wat voorheen een of meer afgodsdiensfeeste gevier het tydens “southern solstice”. Ek weet nie hoe om dit te vertaal nie, maar gaan lees op oor dit; dit gaan oor die posisie van die aarde teenoor die son in Desember wanneer die noordelike halfrond in die hart van die winter is en die suidelike halfrond hoogsomer het. Hierdie heidene het tot bekering gekom en hul heidense praktyke in kersfees ingebring. Die rede waarom heidene in Europa in die eerste eeue na Christus tydens winter meer fees gevier het, was dat hulle meer tyd op hande gehad het omdat hul werk in boerdery dan afgeneem het en omdat hulle bly was oor die vooruitsig van lente. Sommige van die hedendaagse gebruike tydens kersfees kom moontlik oorspronklik uit hierdie feeste uit, soos byvoorbeeld die gee van geskenke en aalmoese, liggies, immergroen plante en sekere disse.

2.         Die ander moontlikheid waarom die 25e Desember gekies was as Christus se geboortedag-vieringe, was om daardeur die heidense fees wat moontlik in Rome gevier was op daardie dag te vervang met kersfees. Die heidense fees ter sprake sou wees "the birthday of the Unconquered Sun" (of in Latyn Dies Natalis Solis Invicti), ‘n fees wat deur die Romeinse heerser Aurelian (wat tussen 270 en 275 nC geheers het) ingestel was om die songod te vier tydens “winter solstice” op 25 Desember. Op grond van hierdie teorie het Christene in die ampstydperk van die Romeinse heerser Constantine (306-337 nC) hierdie fees verklaar as die verjaarsdag van Jesus en Hom geassosieer met die “Son van geregtigheid” in Maleagi 4:2.  Blykbaar het sommige Christene ook deelgeneem aan die feesvieringe vir die songod en daarom het die kerkleiers daaroor gepraat en besluit om die dag te verklaar as die verjaarsdagvieringe van Jesus.

3.  ‘n Derde moontlikheid is dat dit volgens ander bronne andersom gebeur het en dat die heerser Aurelian die “heilige dag”, "the birthday of the Unconquered Sun" ingestel het deels in ‘n poging om heidense betekenis te gee aan ‘n dag wat ALREEDS belangrik was vir die Christene in Rome. Met ander woorde kersfees was gevier VOOR daar ‘n verjaarsdagviering vir die son bestaan het.

Nog ‘n ander bron sê dat die heidense fees om die songod te vier apart gesien moet word van die fees om die geboorte van die son te vier (want die son en die songod is twee verskillende dinge). Hy het gesê dat alhoewel die “winter solstice” op of naby die 25e Desember gevestig was op die Romeinse kalender, is daar geen bewys dat ‘n heidense viering van die son plaasgevind het VOOR die viering van die kersfees nie.  ‘n Ander kenner het gewys dat alhoewel die heerser Aurelian ‘n tempel gewy het aan die songod (in 274 nC) en dit waarskynlik plaasgevind het op die 'Birthday of the Invincible Sun' op die 25e Desember, het die “sekte van die son” in heidense Rome ironies genoeg nie die “winter solstice” gevier nie.

As jy nou deurmekaar is, moenie bekommerd wees nie. Al wat duidelik is, is dat daar volgens die geskiedenisboeke nie sekerheid is oor watter fees eerste plaasgevind het nie. Maar al wat belangrik is, is dat die 25e Desember nie aan die songod – wat nie bestaan nie - behoort nie, maar aan Jesus Christus. Niks en niemand is so “unconquered” (onoorwonne) soos Jesus nie en Hy is werklik die “unconquered Son of God”. (Onthou om my ander twee inskrywings te lees.)

Nou ‘n paar ander geskiedkundige feite oor kersfees.

Eerstens, die woord “Christmas” in sy ou Engelse vorm is eers in die jaar 1038 gebruik en verwys na die viering van nagmaal wat deur Jesus ingestel is. Om hierdie rede alleen kan ons nooit sê dat “Christ was never in Christmas” nie. Nagmaal kan immers nooit apart staan van Jesus nie. Kersfees behoort dus nie ‘n fees te wees waar ons net die geboorte van Jesus vier nie, maar veral die reddingswerk van Jesus deur sy dood en opstanding. Die Afrikaanse woord kersfees word gebruik omdat kerse wat gebruik word tydens die fees simboliseer dat Jesus die Lig vir die wêreld is.

Die “nativity scene” (toneel van Josef, Maria, Jesus en die diere in die stal) was reeds in die 10e eeu in Rome bekend. Saint Francis of Asissi het dit in 1223 begin bekend maak en dit het vinnig oor Europa versprei.

Tydens die Middeleeue het die sing van liedjies gewild geraak en was dit oorspronklik ‘n groep dansers wat gesing het. Daar was ‘n hoofsanger met ‘n ring dansers wat die refrein gesing het. “Ivy” en “holly” en ander immergroen plante was gebruik vir versierings. Ongelukkig was dronkenskap, sedeloosheid en dobbelary ook gepleeg gedurende hierdie tyd (net soos dit vandag die geval is met mense wat die dag misbruik).

In die 15e eeu het was die simboliek in die hartjie vormige “ivy” blare dat Jesus aarde toe gekom het. Die dorings en rooi bessies van “holly” het Jesus se doringkroon en sy bloed wat gevloei het gesimboliseer.

Tydens die Reformasie het Martin Luther ‘n tydperk ingehuldig waarin Duitsland ‘n unieke kersfees kultuur gevorm het. Dit het na Amerika toe oorgewaai. Die fees was in die NG kerk gevier as een van die hoof evangelistiese feeste. Verskillende denominasies het egter verskillende sentimente gehad oor die fees. In sommige denominasies was die fees vir tydperke van jare of dekades verban. Daar was onenigheid oor kersfees net soos wat dit vandag is, maar in daardie jare was dit soms ‘n groot twispunt in die kerk.

Kersfees as ‘n gemeenskaps gebaseerde en kerk-gesentreerde fees het in die laat 18e en vroeë 19e eeu vervaag, maar Charles Dickens het ‘n novelle geskryf naamlik “A Christmas Carol” waarin hy die fees as ‘n gesinsgesentreerde fees van vrygewigheid voorgestel het. Dickens het baie van die hedendaagse kersfees gebruike in die Weste beïnvloed, soos bv. familie byeenkomste, seisoenale kos en drinkgoed en feestelike vrygewigheid. Die woorde “Merry Christmas” kom uit sy storie uit.

Die tradisionele kleure van kersfees versierings is rooi, groen en goud. Rooi verteenwoordig die bloed van Jesus. Groen, veral die immergroen boom, verteenwoordig die ewige lewe. Goud verteenwoordig een van die geskenke wat die wyse manne vir Jesus gebring het en simboliseer koninklikheid.

Hoe ookal bome in die verlede gebruik was in afgodsdiens, het Saint Bonaface (634-709), ‘n sendeling in Duitsland, ‘n eikeboom wat opgedra was aan die afgod Thor afgekap en toe ‘n denneboom gekies as ‘n meer gepaste boom vir die Kersfees omdat dit opwys hemel toe en sy drie-hoekige vorm verwys na die drie-eenheid van God. Die moderne kersfees boom tradisie het in Duitsland in die 18de eeu begin alhoewel sommige glo dat dit Martin Luther was in die 16e eeu. Die kersboom was in Engeland begin gebruik in die vroeë 19e eeu. In 1832 het Koningin Victoria geskryf oor haar blydskap oor ‘n kersboom gehad wat met ornamente en liggies behang was met geskenke wat onder die boom gelê het. Teen 1841 het die gebruik meer verspreid geraak in Engeland. Teen die 1870’s was dit ook gewild in Amerika.

Die hart van Christenskap is die inkarnasie van Jesus. Jesus is God se geskenk aan ons en die gee en ontvang van geskenke tydens kersfees het dus ‘n Goddelike fondasie, ongeag van wie hierdie gebruik eerste in kersfees ingebring het.

Saint Nicholas (kersfeesvader) was ‘n Griekse biskop van Myra in die 4e eeu, ‘n stad wat in Turkeie gestaan het. Hy was bekend vir sy omgee vir kinders, vrygewigheid en die gee van geskenke. Sy feesdag was op die 6e Desember en was in verskeie lande gevier met die uitdeel van geskenke. Teen die 13e eeu was hy bekend in Nederland en die gee van geskenke in sy naam het toe na ander dele van Europa versprei. Tydens die Reformasie in die 16e eeu het baie Protestante die bringer van geskenke verander na die Jesus Kind en die datum het geskuif van die 6e na die 25e Desember. Die moderne beeld van kersvader was in New York geskep na die Amerikaanse Rewolusie, toe inwoners van New York gesoek het vir simbole van die stad se nie-Engelse verlede. New York was aanvanklik ‘n stad naamlik Nieuw Amsterdam in ‘n Hollandse kolonie en daarom het hulle besluit om Saint Nicholas te laat herleef. By sy eerste Amerikaanse verskyning in 1810 het hy Biskopsklere gedra maar soos die tyd verloop het, het mense vir hom meer sekulêre klere aangetrek. In sommige lande is Jesus die Een wat geskenke bring en ek dink ook ons moet ons kinders van kleins af reg leer en dat mens hulle nooit moet leer dat kersfeesvader geskenke bring net om later wanneer hulle groter word te moet uitvind dat daar nie meer so iemand bestaan nie. ‘n Mens moenie jou kinders mislei nie.

Die feit dat sommige regerings kersfees verbied en ander groepe binne lande hard werk om die woord Christus (of Christ) uit die Christmas woordeskat te haal, dui daarop dat daar wel krag lê in die feit dat Christene hierdie fees in die openbaar vier. Die wêreld word op hierdie dag gekonfronteer met die persoon van Jesus Christus en die feit dat hulle nie daarvan hou nie is ‘n goeie teken. Dit beteken dat kersfees nie net ‘n betekenislose gebeurtenis op die jaarlikse kalender hoef te wees nie. Terwyl dit nog in baie lande ‘n vakansiedag is, moet ons die dag benut en Christus vier op ‘n manier wat ander mense vir Hom kan wen op daardie dag.


Sedert die tyd van die Reformasie was daar nog altyd kerkgroepe wat gekant was teen die Kersfees en was daar argumente hieroor. Dit is jammer om te lees dat dit so was en te besef dit is nogsteeds so. Dit is jammer dat daar in die Christendom onenigheid oor hierdie groot dag op die Christenkalender is en dit is nog meer jammer as die wêreld daarbuite, nie-Christene weet van die onenigheid in Christen kringe daaroor. Ek dink dat as ons almal ingelig moet wees oor die basiese geskiedenis van hoe die Christendom oor die eeue heen die fees gevier het en waar al die gebruike vandaan kom. Tweedens moet Christene verstaan dat die evangelie gekontekstualiseer kan word binne verskillende kulture. Elke Christen moet dan ‘n ingeligte besluit maak oor hoe hy en sy gesin gaan kersfees vier. Elkeen moet ook gereed wees om enige ongelowige of gelowige te kan antwoord oor waarom hy kersfees vier of nie vier nie, en as hy dit vier, waarom hy dit so vier. Op hierdie manier kan elke Christen elke ander Christen se keuses rondom hierdie fees respekteer sodat ons kan fokus op die belangrikste van alles, naamlik om ‘n wêreld wat verlore gaan te bereik met die goeie nuus dat Jesus Christus ons Redder is en dat elkeen wat na Hom toe kom in nederigheid, berou het oor sonde en tot bekering kom, gered sal word. 

No comments:

Post a Comment