Vir hierdie artikel het ek die
artikel oor kersfees (of die Christusfees, ‘n beter beskrwing) op Wikipedia
gelees. Ek glo dit is ‘n goeie en betroubare bron van inligting omdat dit
gebaseer is op geskiedkundige feite uit meer as 234 literatuurbronne. Die
inskrywing “Mag ons kersfees vier en hoekom?” het ek geskryf nadat ek ervaar
het dat die Here aan my openbaar het dat die 25e Desember aan Christene behoort
en ons met vrymoedigheid aan die feesvieringe kan deelneem soos Hy ons lei en
soos dit Hom verheerlik en mense nader aan Hom bring. Hierdie artikel gaan meer
oor die geskiedenis van kersfees. Hierdie
is maar ‘n opsomming en dit sal goed wees as jy jou eie navorsing kan doen,
maar as jy nie tyd of lus daarvoor het nie behoort hierdie volledig genoeg te
wees. Lees dan ook die inskrywing oor die “contextualization
of the Gospel”.
Volgens die Wikipedia artikel is daar
nie sekerheid oor wie eerste feesgevier het op die 25e Desember nie, Christene
of heidene.
1. Die een moontlikheid
is dat die feesviering op die 25e Desember plaasgevind het voordat dit deur
heidense praktyke beïnvloed is. Kersfees, die viering van die geboorte van
Christus, is so vroeg as die vierde eeu na Christus gevier is (so vroeg as 311
nC). Dit blyk dat die dag aanvanklik gekies is om ooreen te stem met die dag
presies nege maande nadat die vroeë Christene geglo het die dag is waarop Maria
swanger geword het, naamlik die 25e Maart. Dit is nie onmoontlik dat Jesus in
Desember gebore kon gewees het nie. Die herders het hulle skape nie net in die
somer in die veld opgepas nie, maar ook in die winter. Ons lees in Genesis
31:38-40 dat Jakob in die winter skape moes opgepas het want hy het soms in die
nag bitter koud gekry. ‘n Spesiale groep bekend as die herders van Migdal Eder
(Genesis 35:19-21, Miga 4:8) het dwarsdeur die jaar hul skape in die nag
opgepas wat uitgehou was vir offerhandes in die Tempel naby Bethlehem.
Wat baie interessant is, is dat daar
geglo was dat die 25e Maart (volgens die Joodse kalenderdag 14 Nisan), die
eerste dag van die Skepping was, asook die dag waarop die Israeliete uit Egipte
bevry is, asook die dag waarop Jesus deur Maria van die Heilige Gees ontvang is
en die dag waarop Hy aan die Kruis gesterf het. (Sien die Wikipedia artikel vir
meer hieroor.) Die geboorte (Skepping van die son) en Maria wat swanger geword
het met Jesus val dus min of meer op dieselfde dag.
As hierdie eerste moontlikheid die
waarheid is, dan is kersfees mettertyd beïnvloed deur heidene wat voorheen een
of meer afgodsdiensfeeste gevier het tydens “southern solstice”. Ek weet nie
hoe om dit te vertaal nie, maar gaan lees op oor dit; dit gaan oor die posisie
van die aarde teenoor die son in Desember wanneer die noordelike halfrond in
die hart van die winter is en die suidelike halfrond hoogsomer het. Hierdie
heidene het tot bekering gekom en hul heidense praktyke in kersfees ingebring. Die
rede waarom heidene in Europa in die eerste eeue na Christus tydens winter meer
fees gevier het, was dat hulle meer tyd op hande gehad het omdat hul werk in
boerdery dan afgeneem het en omdat hulle bly was oor die vooruitsig van lente. Sommige
van die hedendaagse gebruike tydens kersfees kom moontlik oorspronklik uit
hierdie feeste uit, soos byvoorbeeld die gee van geskenke en aalmoese, liggies,
immergroen plante en sekere disse.
2. Die ander
moontlikheid waarom die 25e Desember gekies was as Christus se geboortedag-vieringe,
was om daardeur die heidense fees wat moontlik in Rome gevier was op daardie
dag te vervang met kersfees. Die heidense fees ter sprake sou wees "the
birthday of the Unconquered Sun" (of in Latyn Dies Natalis Solis
Invicti), ‘n fees wat deur die Romeinse heerser Aurelian (wat tussen 270 en
275 nC geheers het) ingestel was om die songod te vier tydens “winter solstice”
op 25 Desember. Op grond van hierdie teorie
het Christene in die ampstydperk van die Romeinse heerser Constantine (306-337
nC) hierdie fees verklaar as die verjaarsdag van Jesus en Hom geassosieer met
die “Son van geregtigheid” in Maleagi 4:2.
Blykbaar het sommige Christene ook deelgeneem aan die feesvieringe vir
die songod en daarom het die kerkleiers daaroor gepraat en besluit om die dag
te verklaar as die verjaarsdagvieringe van Jesus.
3. ‘n Derde moontlikheid is dat dit volgens ander bronne
andersom gebeur het en dat die heerser Aurelian die “heilige dag”, "the
birthday of the Unconquered Sun" ingestel het deels in ‘n poging om heidense betekenis te gee aan ‘n dag wat ALREEDS
belangrik was vir die Christene in Rome. Met ander woorde kersfees was
gevier VOOR daar ‘n verjaarsdagviering vir die son bestaan het.
Nog ‘n ander bron sê dat die heidense
fees om die songod te vier apart
gesien moet word van die fees om die geboorte van die son te vier (want die son en die songod is twee verskillende dinge).
Hy het gesê dat alhoewel die “winter solstice” op of naby die 25e Desember
gevestig was op die Romeinse kalender, is
daar geen bewys dat ‘n heidense viering van die son plaasgevind het VOOR die
viering van die kersfees nie. ‘n
Ander kenner het gewys dat alhoewel die heerser Aurelian ‘n tempel gewy het aan
die songod (in 274 nC) en dit waarskynlik plaasgevind het op die 'Birthday of
the Invincible Sun' op die 25e Desember, het
die “sekte van die son” in heidense Rome ironies genoeg nie die “winter
solstice” gevier nie.
As jy nou deurmekaar is, moenie bekommerd
wees nie. Al wat duidelik is, is dat daar volgens die geskiedenisboeke nie sekerheid is oor watter fees eerste
plaasgevind het nie. Maar al wat belangrik is, is dat die 25e Desember nie aan
die songod – wat nie bestaan nie - behoort nie, maar aan Jesus Christus. Niks
en niemand is so “unconquered” (onoorwonne) soos Jesus nie en Hy is werklik die
“unconquered Son of God”. (Onthou om my ander twee inskrywings te lees.)
Nou ‘n paar ander geskiedkundige
feite oor kersfees.
Eerstens, die woord “Christmas” in sy
ou Engelse vorm is eers in die jaar 1038 gebruik en verwys na die viering van
nagmaal wat deur Jesus ingestel is. Om hierdie rede alleen kan ons nooit sê dat
“Christ was never in Christmas” nie. Nagmaal kan immers nooit apart staan van
Jesus nie. Kersfees behoort dus nie ‘n fees te wees waar ons net die geboorte
van Jesus vier nie, maar veral die reddingswerk van Jesus deur sy dood en
opstanding. Die Afrikaanse woord kersfees word gebruik omdat kerse wat gebruik
word tydens die fees simboliseer dat Jesus die Lig vir die wêreld is.
Die “nativity scene” (toneel van
Josef, Maria, Jesus en die diere in die stal) was reeds in die 10e eeu in Rome
bekend. Saint Francis of Asissi het dit in 1223 begin bekend maak en dit het
vinnig oor Europa versprei.
Tydens die Middeleeue het die sing
van liedjies gewild geraak en was dit oorspronklik ‘n groep dansers wat gesing
het. Daar was ‘n hoofsanger met ‘n ring dansers wat die refrein gesing het.
“Ivy” en “holly” en ander immergroen plante was gebruik vir versierings.
Ongelukkig was dronkenskap, sedeloosheid en dobbelary ook gepleeg gedurende
hierdie tyd (net soos dit vandag die geval is met mense wat die dag misbruik).
In die 15e eeu het was die simboliek
in die hartjie vormige “ivy” blare dat Jesus aarde toe gekom het. Die dorings
en rooi bessies van “holly” het Jesus se doringkroon en sy bloed wat gevloei het
gesimboliseer.
Tydens die Reformasie het Martin
Luther ‘n tydperk ingehuldig waarin Duitsland ‘n unieke kersfees kultuur gevorm
het. Dit het na Amerika toe oorgewaai. Die fees was in die NG kerk gevier as
een van die hoof evangelistiese feeste. Verskillende denominasies het egter
verskillende sentimente gehad oor die fees. In sommige denominasies was die
fees vir tydperke van jare of dekades verban. Daar was onenigheid oor kersfees
net soos wat dit vandag is, maar in daardie jare was dit soms ‘n groot twispunt
in die kerk.
Kersfees as ‘n gemeenskaps gebaseerde
en kerk-gesentreerde fees het in die laat 18e en vroeë 19e eeu vervaag, maar
Charles Dickens het ‘n novelle geskryf naamlik “A Christmas Carol” waarin hy
die fees as ‘n gesinsgesentreerde fees van vrygewigheid voorgestel het. Dickens
het baie van die hedendaagse kersfees gebruike in die Weste beïnvloed, soos bv.
familie byeenkomste, seisoenale kos en drinkgoed en feestelike vrygewigheid.
Die woorde “Merry Christmas” kom uit sy storie uit.
Die tradisionele kleure van kersfees
versierings is rooi, groen en goud. Rooi verteenwoordig die bloed van Jesus.
Groen, veral die immergroen boom, verteenwoordig die ewige lewe. Goud
verteenwoordig een van die geskenke wat die wyse manne vir Jesus gebring het en
simboliseer koninklikheid.
Hoe ookal bome in die verlede gebruik
was in afgodsdiens, het Saint Bonaface (634-709), ‘n sendeling in Duitsland, ‘n
eikeboom wat opgedra was aan die afgod Thor afgekap en toe ‘n denneboom gekies as ‘n meer gepaste boom
vir die Kersfees omdat dit opwys hemel toe en sy drie-hoekige vorm verwys na
die drie-eenheid van God. Die moderne kersfees boom tradisie het in
Duitsland in die 18de eeu begin alhoewel sommige glo dat dit Martin Luther was
in die 16e eeu. Die kersboom was in Engeland begin gebruik in die vroeë 19e
eeu. In 1832 het Koningin Victoria geskryf oor haar blydskap oor ‘n kersboom
gehad wat met ornamente en liggies behang was met geskenke wat onder die boom
gelê het. Teen 1841 het die gebruik meer verspreid geraak in Engeland. Teen die
1870’s was dit ook gewild in Amerika.
Die hart van Christenskap is die
inkarnasie van Jesus. Jesus is God se geskenk aan ons en die gee en ontvang van
geskenke tydens kersfees het dus ‘n Goddelike fondasie, ongeag van wie hierdie
gebruik eerste in kersfees ingebring het.
Saint Nicholas (kersfeesvader) was ‘n
Griekse biskop van Myra in die 4e eeu, ‘n stad wat in Turkeie gestaan het. Hy
was bekend vir sy omgee vir kinders, vrygewigheid en die gee van geskenke. Sy
feesdag was op die 6e Desember en was in verskeie lande gevier met die uitdeel
van geskenke. Teen die 13e eeu was hy bekend in Nederland en die gee van
geskenke in sy naam het toe na ander dele van Europa versprei. Tydens die
Reformasie in die 16e eeu het baie Protestante die bringer van geskenke
verander na die Jesus Kind en die datum het geskuif van die 6e na die 25e
Desember. Die moderne beeld van kersvader was in New York geskep na die
Amerikaanse Rewolusie, toe inwoners van New York gesoek het vir simbole van die
stad se nie-Engelse verlede. New York was aanvanklik ‘n stad naamlik Nieuw
Amsterdam in ‘n Hollandse kolonie en daarom het hulle besluit om Saint Nicholas
te laat herleef. By sy eerste Amerikaanse verskyning in 1810 het hy Biskopsklere
gedra maar soos die tyd verloop het, het mense vir hom meer sekulêre klere
aangetrek. In sommige lande is Jesus die
Een wat geskenke bring en ek dink ook ons moet ons kinders van kleins af reg
leer en dat mens hulle nooit moet leer dat kersfeesvader geskenke bring net om
later wanneer hulle groter word te moet uitvind dat daar nie meer so iemand
bestaan nie. ‘n Mens moenie jou kinders mislei nie.
Die feit dat sommige regerings kersfees
verbied en ander groepe binne lande hard werk om die woord Christus (of Christ)
uit die Christmas woordeskat te haal, dui daarop dat daar wel krag lê in die
feit dat Christene hierdie fees in die openbaar vier. Die wêreld word op
hierdie dag gekonfronteer met die persoon van Jesus Christus en die feit dat
hulle nie daarvan hou nie is ‘n goeie teken. Dit beteken dat kersfees nie net
‘n betekenislose gebeurtenis op die jaarlikse kalender hoef te wees nie. Terwyl
dit nog in baie lande ‘n vakansiedag is, moet ons die dag benut en Christus
vier op ‘n manier wat ander mense vir Hom kan wen op daardie dag.
Sedert die tyd van die Reformasie was
daar nog altyd kerkgroepe wat gekant was teen die Kersfees en was daar
argumente hieroor. Dit is jammer om te lees dat dit so was en te besef dit is
nogsteeds so. Dit is jammer dat daar in die Christendom onenigheid oor hierdie
groot dag op die Christenkalender is en dit is nog meer jammer as die wêreld
daarbuite, nie-Christene weet van die onenigheid in Christen kringe daaroor. Ek
dink dat as ons almal ingelig moet wees oor die basiese geskiedenis van hoe die
Christendom oor die eeue heen die fees gevier het en waar al die gebruike vandaan
kom. Tweedens moet Christene verstaan dat die evangelie gekontekstualiseer kan
word binne verskillende kulture. Elke Christen moet dan ‘n ingeligte besluit
maak oor hoe hy en sy gesin gaan kersfees vier. Elkeen moet ook gereed wees om
enige ongelowige of gelowige te kan antwoord oor waarom hy kersfees vier of nie
vier nie, en as hy dit vier, waarom hy dit so vier. Op hierdie manier kan elke
Christen elke ander Christen se keuses rondom hierdie fees respekteer sodat ons
kan fokus op die belangrikste van alles, naamlik om ‘n wêreld wat verlore gaan
te bereik met die goeie nuus dat Jesus Christus ons Redder is en dat elkeen wat
na Hom toe kom in nederigheid, berou het oor sonde en tot bekering kom, gered
sal word.