Saturday 26 December 2015

Mag ons die Christusfees (kersfees) vier en hoekom?

Hierdie artikel gaan oor my persoonlike oortuiging van wat ‘n Christen se ingesteldheid heens kersfees behoort te wees. Lees asseblief ook my inskrywing oor "contextualization of the Gospel".


Miskien is jy as ‘n Christen bewus daarvan dat baie Christene in die hedendaagse tyd nie meer kersfees vier nie. Hulle rede daarvoor is die feit dat die feesvieringe op die 25e Desember ‘n heidense oorsprong het, en ook omdat hulle glo dat Christus se geboorte nie in Desember sou plaasgevind het nie aangesien dit dan bitterkoud is in die noordelike halfrond.  As die oorsprong van kersfees jou interesseer kan jy maklik ‘n studie gaan doen hieroor. Ek gee 'n kort opsomming in 'n volgende inskrywing "'n Kort geskiedenis van kersfees".

Die ander argument wat mense het oor kersfees is dat daar niks in die Bybel daaroor staan nie. Christus het ons nie beveel om kersfees te vier nie. Maar soos iemand opgemerk het, daar staan ook niks in die Bybel oor verjaarsdagvieringe nie en wie van ons (behalwe as jy ‘n Jehovah-getuie is) glo dit is teen God se wil?

Mense haal ook soms Jeremia (10:1-5) se woorde aan waar die Here praat oor die nie-Jode wat bome afkap en dit dan met silwer en goud versier. Maar as mens hierdie gedeelte in die konteks van die hele boek lees, blyk dit duidelik te wees dat daar nie van kersbome gepraat word nie, maar van bome wat afgekap word om beelde van te maak sodat die beelde aanbid kan word. Verder staan daar niks in die Bybel oor kersbome nie. 


Jy sal lees dat daar 'n moontlikheid is dat die feesvieringe op die 25e Desember dalk eers gevier was ter ere van die "songod" (wat niks anders as 'n afgod is nie, en dus nie bestaan nie). Iemand sê dalk vir jou dat as jy kersfees vier, dan neem jy deel aan afgodediens of vereer jy bose geeste. Maar as dit werklik vir jou gaan daaroor om Jesus se geboorte en eintlik lewe te vier, hoef jy nie bekommerd te wees dat jy per ongeluk ‘n ander gees gaan vier en eer nie. Ek is oortuig daarvan dat net soos wat dit wat Jesus aangeraak het genees en geheilig is, is daar sekere dinge wat ons ook in sy Naam kan “redeem” en heilig.  Die 25e Desember het eerste aan God behoort. Dit was miskien in die Romeinse tyd 'n groot dag op die okkultiese kalender (en miskien is dit nogsteeds), maar Christene het in die verlede het die dag teruggevat en geheilig. Greater is He that is in me than he that is in the world (1 John 4:4). Hoekom moet ons optree asof dit nogsteeds die duiwel se dag is? Ons kan die heidense wortels van enige ding afsny en dit herwin (“redeem”) vir God se doeleindes omdat alles eers aan God behoort het. Net soos sommige van die apostel Paulus se bekeerlinge heidense name gehad het voor hul bekerings en hul nie hulle name daarna verander het nie. Die Skrif noem net hulle heidense name, en dit nadat hulle tot bekering gekom het. As jy in jou huis en in jou familie in die gesag van Jesus Christus staan teen enige bose werke en planne, dan hoef jy niks te vrees nie. Ons hoef nie kersfees te vier nie, maar as ons motivering vir die nie-viering is dat ons tog net nie die gees van die songod wil eer nie, dan verstaan ons nog nie die gesag wat ons het in die Naam van Jesus nie. (As jy hier lees maar nie seker is of jy verstaan wat ek in hierdie paragraaf verduidelik nie en nie seker is dat jy in die gesag van Jesus kan praat en bid nie, gaan lees dan eers my blog inskrywing “Toe ek die Heilige Gees ontmoet het” en “Verband tussen redding en doping in die Heilige Gees” en maak seker jy behoort heelhartig aan Jesus. As jy hulp nodig het, is jy welkom om vir my ‘n e-pos te stuur.)


Ons hoef nie ‘n “issue” te maak oor iets wat nie vir God ‘n “issue” is nie. Paulus sê in Romeine 14:5-6: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here..”


Ek glo dat hierdie Skrifgedeelte voorsiening maak vir enige iemand wat ‘n spesifieke dag wil afsonder vir feesvieringe of enige saak tot eer van die Here. Ons moet dus mense toelaat om dit te doen sonder om hulle te belaai met skuldgevoelens, al is dit hoe effens of subtiel. Dit is nie verkeerd om mense in te lig oor die heidense wortels van die feesvieringe op die 25e Desember nie, maar dalk heeltemal onnodig inaggeneem die feit dat ons nou ‘n Christusfees vier op hierdie dag. Dit is egter beslis vekeerd om veroordelend te wees teenoor mense wat kersfees vier, veral as dit hulle opregte bedoeling en begeerte is om Jesus te vier, al is dit nie Jesus se werklike geboortedatum nie. Ons weet in elk geval nie op watter dag Hy gebore is nie, so wat maak dit saak of ons Hom in die winter of somer vier? So ‘n veroordelende gesindheid van ‘n Christen is onnodig, liefdeloos, hoogmoedig en doen geen goed nie. Ons moet liewer uit nederigheid die geleentheid gebruik om met mense te gesels oor wat dit vir hulle beteken dat Christus in die wêreld ingekom het, wat Hy gekom het om te doen en wat die waarde van sy dood en opstanding is. 


Ek is persoonlik een van daardie mense wat “al die dae gelyk ag” (alhoewel 'n atmosfeer van feesviering vir my ook aansteeklik is). Ek glo dat die viering van Christus se lewe, dood en opstanding ‘n leefstyl moet wees, iets wat elke dag gebeur in verskeie vorme deur die Christus gesentreerde lewe te leef. Ons kan dit o.a. doen deur nagmaal te hou. Jesus het gesê dat wanneer ons eet en drink moet ons dit doen ter herinnering aan Hom en dat elke keer wanneer ons dit doen, ons sy dood (en opstanding) proklameer totdat Hy weer terugkom (1 Kor 11:23-26). Ons eet en drink elke dag en kan dus elke dag teenoor mense getuig wie Hy is. Maar as daar ‘n geleentheid is waar familie bymekaar kom om Paasfees of kersfees te vier, sal ek saam deelneem. Kersfees is immers die een dag in die jaar waarop groot dele van die wêreld gekonfronteer word met die Christus van die Christusfees. Regoor die westerse wêreld, maar in meeste ander lande ook hou mense op werk en kom families op hierdie dag bymekaar, beide Christene en nie-Christene. Ek glo dat die God van liefde wat ek ken nie sal wil hê dat hierdie Christusfees soos ons dit ken net wegval nie, maar liewer dat ons die geleentheid wat reeds daar is, gebruik om die waarheid te verkondig, om mense te vertel dat hulle ‘n Redder nodig het, en Jesus Christus is die Een!  


Solank mense kersfees vier op 'n manier wat God verheerlik, is dit meer verkeerd en groter sonde vir iemand om hulle wat kersfees vier, se dade te oordeel as sonde, as wat dit sonde sou wees om kersfees te vier. As jy dus nie met of van mense wat kersfees vier kan praat sonder om te spot of veroordelend te wees nie, hou liewer jou opinie vir jouself. Jy sal sodoende baie minder skade aanrig. Jy hoef nie ‘n kersboom in jou huis te hê nie en jy hoef nie geskenke uit te deel nie en jy hoef nie op kersdag kerk toe te gaan nie, maar jy mag beslis nie iemand oordeel wat dit wel doen nie of die spot dryf met iemand wat "Christ back into Christmas" wil plaas nie. Dit is wat jy ook behoort te doen. Vandat daar die woord “Christmas” bestaan, is “Christ” veronderstel om in “Christmas” te wees. Terwyl dit jou volste reg is om nie kersfees op die tradisionele manier te vier nie (kersboom, kersvader, geskenke ens.) kan jy en jou gesin besluit hoe julle die dag wil benut en spandeer op 'n manier dat dit iemand anders nader aan Jesus bring. Ons kan dit vier op ‘n manier waarop dit nie oor ons pret en plesier gaan nie. As ons geld spandeer moet dit nie wees om onsself trommeldik te eet aan te veel kos of om ons kinders te oorlaai met baie geskenke nie. Gee liewer vir jou kinders die geleentheid om geskenke uit te soek om vir kinders in ‘n kinderhuis te gaan gee.  So sal jy en hulle ervaar dat dit meer geseënd is om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35). Jy en jou gesin kan op hierdie dag vir iemand iets gaan doen wat hulle nie vir jou kan terugdoen nie. Ek dink die dag moet gaan oor gee en veral aan hulle wat groot behoefte het om te ontvang.


Iemand daarbuite is honger. Iemand is eensaam. Iemand het nie ‘n dak oor sy kop nie. Iemand het nie familie nie. Iemand is in die tronk. Iemand is in die hospitaal. Iemand is in die ouetehuis. Iemand staan op die straathoek. Iemand is in ‘n kinderhuis. “Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” (Lukas 14:13-14). 


Ek het op die 25e Desember 2015, nadat ek ‘n kersfeesmaal saam my ouers geëet het, die plaaslike vuil staatshospitaal en die ouetehuis gaan besoek. Ek het vir ‘n paar siek kindertjies lekkers gegee en saam ‘n paar mamma’s gebid en saam gehuil. Ek het vir ‘n paar oumatjies lekkers gegee en saam gebid. Maar my “divine appointment” vir die dag was ‘n middeljarige man (40’s) wat die oggend van 25 Des in ‘n staatshospitaal opgeneem is vir depressie. Hy het by ‘n venster gestaan toe ek uit die kindersaal oppad was na die hysbak toe om die hospitaal te verlaat. Ek het toe net gevoel ek moet vra of hy o.k. is. Dit was vir my 'n geleentheid om liefde te betoon deur net te luister toe hy my vertel het van die aaklige dinge uit sy kinderdae wat nogsteeds ‘n effek het op die man wie hy is vandag, en toe vir hom gebid. Hy het toe vir my vertel dat hy in die hospitaal se gang was omdat hy gaan soek het vir ‘n venster om uit te spring… Gelukkig het al die vensters diefwering op. Die punt is, die man was baie depressief, maar iemand het gekom om te luister en te bid, en toe ek wegloop was sy woorde “Jy is ‘n engel wat gestuur is op ‘n baie donker dag”. Dit sê ek nie om my eie beuel te blaas nie, maar om vir jou te sê dat op die 25 Desember 2016 en elke kersfees daarna, sal daar iemand wees wat jou nodig het. Vra die Here om jou te lei sodat jou pad met daardie persoon kan kruis.

2 comments:

  1. Ek kan nie meer saamstem met hierdie stuk nie. Dit maak my hart warm en my oë nat... dankie Anita.

    ReplyDelete
  2. Ek kan nie meer saamstem met hierdie stuk nie. Dit maak my hart warm en my oë nat... dankie Anita.

    ReplyDelete